Lekker! En dit is presies wat deelnemers aan die e.tv-werklikheidsreeks Ultimate Braaimaster vanaand moet voorsit om die beoordelaars, Justin Bonello, Bertus Basson en Petrus Madutlela, te beïndruk. Vir hierdie buitelug-kookuitdaging reis die 12 oorblywende spanne na die Sederberge, wat veral bekend is vir pragtige rotsformasies. Daar moet hulle binne vyf uur ’n verskeidenheid potjiekosgeregte aanmekaarslaan, maar almal is nie ewe suksesvol nie.

Verlede week het kykers gesien hoe die twee spanne Simply Sisters en die Weskus Braaiers teleurgesteld moes hoor hul tydjie saam met Ultimate Braaimaster is verstreke.

Die Johannesburgers Busisiwe Dhladhla(32) en Thembeka Ngcobo (31), van Simply Sisters, het geglo hul spanleuse van “We shall overcome!” sal net die regte motivering wees om hulle tot die eindronde te dra, maar die Braai Master-beoordelaars het anders gemeen.

John Stewart Grundlingh (35) en Bruno Julian Mori (34), twee vriende van die Weskus, het as die Weskus Braaiers ingeskryf ter ere van een van hul beste vriende wat verlede jaar oorlede is, vertel hulle.

Gedurende hul kort tydjie by Ultimate Braaimaster het Bruno dit die meeste gemis om te gaan branderplank ry, terwyl John sê hy het die meeste na sy vrou verlang.

Nou gaan die volgende twee spanne hul goedjies moet pak. Wie sal dit wees? Kyk vanaand (Donderdag 2 Oktober) om 20:30 op e.tv na die vierde aflewering van Ultimate Braai Master om uit te vind.

UBM-2