Panayiotou-moord: Van parfuum en spelfoute tot vermeende moordenaar se swygreg

In die saak teen Christopher Panayiotou en sy twee medebeskuldigdes, het die binneverhoor Maandag in die Port Elizabethse hoër hof voortgegaan. Christopher, Sinethembe Nenembe en Zolani Sibeko word onder meer aangekla van ontvoering en moord. Die slagoffer was Jayde Panayiotou, Christopher se vrou. Landdros Esté Petzer is Maandagoggend geroep om te getuig. Sy het onderhandelinge gehad met die beweerde middelman, Luthando Siyoni.

Sy getuig dat Luthando ongelukkig was omdat sy familie hom slegs elke tweed week kon sien. Hy het geen ander klagtes geopper nie maar het wel aan haar genoem dat sy “lekker ruik” en wou weet watter parfuum sy gebruik. Sy sou daarop aan hom gesê het dat hy hom persoonlike opmerkings moet weerhou.
Landdros Thuliswa Bethela het ook Maandagoggend in die getuiebank verskyn. Volgens haar het sy en Luthando in isiXhosa gesels. Hy sou aan haar noem dat hy nie langer ’n beskuldigde nie, maar wel ’n staatsgetuie is.
Luthando sou glo ophou eet het omdat hy uit Humewood wou weggaan. Sy noem ook dat sy enigste klagte die min kontak met sy familie was.
Effense verwarring heers in die hof toe landdros Bethela sê Luthando wou in ’n stadium nie meer ’n staatsgetuie wees nie, maar eerder ’n beskuldigde. http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/kyk-video-christopher-panayiotou-en-medebeskuldigdes-in-hof/ Kapt. Kanna Swanepoel is die volgende in die getuiebank. Hy is van die georganiseerde misdaad-eenheid.
Hy is drie dae na Jayde se moord as ondersoekbeampte van die saak aangestel en sou Luthando vir die eerste keer op 28 April 2015 by die Valke se kantoor ontmoet.
Hy getuig dat Luthando aan hom gesê het dat hy ’n verklaring afgelê het maar dat hy nie in die spervuur wil kom as gevolg van iemand anders se dade nie. Hy sou ook aan Luthando noem dat dit nie so maklik is om ’n getuie in die saak te wees nie, veral omdat daar soveel getuienis is wat na sy kant toe wys. Dit sou Luthando wees wat daarop aangedring het dat Christopher Panayiotou gebel moes word. Die nodige regsadvies is ingewin en hulle kon voortgaan met die oproep.
Kanna se amptelike polisieselfoon is gebruik om die oproep te maak. Maar die oproep-idenfikasiefunksie was afgeskakel. Die oproep sou as “onbekend” op Christopher se selfoon registreer.

Ao. Leon Eksteen, ’n gesinsvriend, se selfoon sou gebruik word om die telefoniese gesprek mee op te neem.

http://www.huisgenoot.com/nuus/plaaslik/panayiotou-verhoor-n-pa-wat-sy-seun-wou-afskryf-geheime-opnames-en-n-kwaadwillige-polisieman/ Op die eerste dat is daar 13 oproepe en een SMS gemaak. Die oproepe is net ses keer beantwoord. Christopher het vyf van die oproepe beantwoord en Donovan Vosloo een. Tydens die bykans-nuttelose oproepe het Christopher aangedui dat hy nie tyd het om met Luthando te gesels nie.

Daar word ook getuig rondom die SMS wat van Luthando se selfoon, wat deur die polisie gekonfiskeer was, na Christopher s’n gestuur is. Volgens Kanna is Luthando se selfoon ingespan omdat die ander oproepe geen vrug gelewer het nie. Die boodskap suggereer dat Luthando vir Christopher “Boss” laat weet as hy in hegtenis geneem gaan word, gaan die polisie op Christopher se spoor kom. Kanna ontken dat hy self die SMS gestuur het – benewens die feit dat hy nooit die woord “boss” gebruik nie, is daar ook verskeie spelfoute wat hy nie sou maak nie.

Op 29 April 2015 om 10:14 het Luthando ’n oproep vanaf die OK Grocer, Christopher se besigheid, ontvang. Daar was verskeie oproepe vanaf daardie nommer wat hulle misgeloop het. Luthando is weer aangesê om vir Christopher te bel. Christopher het geantwoord en sou sê hy is besig, maar sal later terugbel. Hy doen dit glo nie en daar word met ’n SMS vanaf Luthando opgevolg om uit te vind hoekom nie. Luthando vra ook vir geld en sê hy kan nie vir Christopher by die OK Grocer ontmoet nie. Nog vier oproepe volg na Luthando se selfoon. Onbeantwoord. Kanna het daarna gereël dat Luthando weer van die tronk gehaal word om vermoedelik die oproepe te antwoord. Agt oproepe later wil Christopher van Luthando weet waar hulle bymekaar kan kom. Daar word ooreengekom om by die Engen-vulstasie in Algoapark te ontmoet.

Nadat Kanna die videomateriaal van die ontmoeting tussen Luthando en Christopher gekyk het, is daar na Christopher se ouerhuis gegaan.

Daar was glo verskeie mense by die huis waarop Eksteen ingegaan het om vir Christopher te gaan haal. Sy pa, Costa, het eerste uitgekom en nadat Kanna aan hom die doel van hul besoek verduidelik het, het hy sy seun gaan haal. “Ek het myself voorgestel en aan hom gesê dat ek hom vir moord in hegtenis neem. Ek het hom daarna oor sy regte ingelig,” het Kanna getuig. Christopher het toestemming verleen dat sy motor deursoek kon word. Die selfoon waarmee hy Luthando gekontak het, is in sy motor gevind. Hy het egter geweier om enigiets te onderteken en het slegs wanneer absoluut noodsaaklik, gepraat. “Hy het gebruik gemaak van sy reg om stil te bly.”

Christopher sou wel ook toestemming verleen dat sy huis in Kabaga Park deursoek kon word.

Adv. Terry Price versoek om Kanna Swanepoel eers weer na die getuiebank terug te roep nadat die staat se volgende drie getuies verskyn het.

Die hof verdaag tot twee-uur.