Van die motoriste wat gesê het hulle was al die teiken van padwoede, sê minder as ’n tiende die aggressor was ’n vrou, maar meer as die helfte sê die aggressor was ’n man. Die res kon nie sê of die persoon manlik of vroulik was nie.

Daarby het dit geblyk vroue sal eerder vloek, terwyl mans eerste die toeter druk.  Maar moenie dink vroue is engeltjies nie – die navorsing het ook gewys dat vroue baie makliker as mans ’n middelvinger sal gooi.

Dié inligting kom alles uit navorsing wat deur Forbes sowel as die AA gedoen is en in ’n onlangse persverklaring deur 1st for Women versekering vrygestel is. In die verklaring sê dit ook padwoedevoorvalle word ál gewelddadiger.

“Stres, depressie en opgekropte aggressie is faktore wat hiertoe bydra. Dit kan daartoe lei dat kleiner voorvalle vinnig in iets groters met ’n disproporsionele en gewelddadige reaksie kan ontaard,” sê 1st for Women Insurance se uitvoerende hoof, Robyn Farrell.

Die navorsing het verder getoon dat net minder as die helfte van respondente ten tyde van die voorval kinders in die motor gehad het, en dat net minder as die helfte van alle padwoedevoorvalle aan jong bestuurders tussen 18 en 25 toe te skryf is. “Dis maklik om jou humeur te verloor wanneer jy onder druk of laat is en ’n ander motoris hulle wangedra,” waarsku Robyn, “Maar dis gevaarlik.”

1st for Women gee ’n paar wenke om padwoede te vermy:

  • Maak seker jy slaap genoeg. Die National Sleep Foundation het bevind dat moegheid ons meer geneig tot woede en irritasie maak.
  • Moenie jaag nie. Jaag jy gereeld soggens in absolute chaos rond in die hoop dat jy betyds by die werk sal kom? Indien wel, is dit wys ekstra tyd soggens in te ruim vir aantrek, die skool-kospakkies voorberei, brandstof ingooi en om jou afspraak te reël. Meer tyd maak jou rustiger op die pad.
  • Onthou, jou voertuig is ’n vervoermiddel, nie ’n wapen nie.
  • Luister na musiek wat jou in ’n goeie bui sit. Dit maak sin dat klassieke musiek, ander ontspannende musiek of selfs ’n bietjie komedie jou stresvlakke sal verlaag. Jy kan selfs na ’n oudioboek luister om die malle gejaag buite jou kar vir ’n wyle uit te doof.
  • Haal diep asem. Ontspan daai greep op die stuurwiel en hou op op jou tande kners. ’n Paar asemhalingsoefeninge, en ’n bietjie strek agter die stuurwiel kan ’n woedebui kalmeer.
  • Onthou, iemand wat sleg bestuur, is nie op jou persoonlik gemik nie. ’n Vyandige houding is toksies vir jou gesondheid; probeer dit daar laat, al maak iemand jou hoe kwaad.
  • Motors laat mense meer beskerm voel, en tree op soos wat hulle nie gewoonlik sou nie. Sou ’n ander bestuurder in jou baan inswenk terwyl hulle op hul selfoon praat, reageer asof jul motors nie daar is om as buffers te dien nie – stel jou voor die persoon sit langs jou in die kar. Sou jy dan ook so geswets en jou toeter geblaas het?
  • Hou jou eie gedrag fyn dop. Ry jy vinnig? Hoe gereeld SMS jy terwyl jy bestuur? Swets jy gereeld wanneer jy bestuur? Indien wel, mag jy dalk die aggressiewe bestuurder wees.
  • Wees vriendelik. Doen aan ander wat jy aan jou gedoen wil hê.