Gregory Kleinhentz het die oggend kort ná elfuur kortliks in die hof verskyn. ’n Lasbrief is vroeër die oggend uitgereik nadat Gregory en sy prokureur versuim het om te verskyn toe die saak geroep is.

Gregory het ’n wit hemp, swart oortrektrui en broek aangehad terwyl sy prokureur verskoning gevra het vir hul afwesigheid in die hof.

Hy het die hof vertel hulle was in die gebou besig met ’n konsultasie. Die lasbrief is gekanselleer en die borgtog heringestel. Die saak is tot 21 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

Gregory het ’n sy-uitgang gebruik om die hofgebou te verlaat en het ’n groot groep fotograwe vermy wat buite gewag het. Hy het in ’n swart Jeep Grand Cherokee geklim en het weggery.

’n Ooggetuie het die voorval, wat Saterdagmiddag omstreeks drieuur op Witkoppen-weg plaasgevind het, opgeneem en op YouTube geplaas.

Die video wys hoe ’n passasier uit ’n Porsche klim en die bestuurdersdeur van ’n Volkswagen Polo skop. Toe die Polo se bestuurder sy venster afrol, begin die ander man hom slaan. ’n Stryd breek oënskynlik los en die man gooi iets wat soos die Polo se sleutels lyk oor die pad.