Pampoen laat ’n mens se hare krul.

#Onwaar. Pampoen bevat vitamien A en die liggaam gebruik dit om sebum te vervaardig, ’n olierige stof wat werk soos ’n natuurlike opknapper vir ’n gesonde kopvel. Jou gene bepaal of jou hare krul.

Amper al jou liggaamshitte ontsnap deur jou kop.

#Waar en onwaar. Kinders onder ses, en veral babas, verloor meer liggaamshitte deur hul kop as volwassenes, waarskynlik omdat ’n baba se kop baie groter in verhouding tot hul lyf is.

’n Mens kry verkoue as jy met nat hare buite loop.

#Waar en onwaar. Nat hare kan jou kans vergroot om ’n verkoue of virus op te doen as jou immuunstelsel reeds kwesbaar is.

Plante groei by jou ore uit as jy waatlemoenpitte insluk.

#Onwaar. Ingeslukte saad sal nie ontkiem en begin groei nie, want die verteringsappe in jou maag sal dit verhoed.

Kinders raak hiperaktief as hulle suiker eet.

#Onwaar. Suiker het ’n glisemiese indeks van 100; dus word die glukose dadelik in jou bloedstroom vrygestel. Dit kan jou energiek laat voel, maar nie hiperaktief maak nie.

Spinasie maak ’n mens sterk.

#Waar. Dit sal jou nie help spiere bou soos Popeye s’n nie, maar dit bevat ’n kragtige kombinasie van voedingstowwe soos yster, vitamien C en K, vesel en antioksidante.

Wortels help ’n mens beter sien.

#Onwaar. Wortels bevat vitamien A en betakarotien wat die normale werking van die oog stimuleer. Maar dit ondersteun net die oogwerking wat jy reeds het.

Dit duur sewe jaar vir peper om te verteer.

#Waar. Maar omdat jou liggaam al die kos uitskei wat nie ná 48 uur verteer nie, sal jy gelukkig net twee dae met die peper rondloop, nie sewe jaar nie!

Sjokolade gee ’n mens puisies.

#Onwaar. Ouers vertel dit gewoonlik vir hul tieners sodat hulle gesond sal leer leef. Maar ’n verband tussen sjokolade en aknee is nog nooit bewys nie. ’n Olierige vel en hormoonveranderings lei tot aknee.

Te veel TV kyk gee ’n mens vierkantige oë.

#Onwaar. Maar jou oë kan lui word, want hulle hoef net te fokus op die afstand van die rusbank tot by die TV. Oor ’n lang tydperk kan jou oë van hul vermoë verloor om oor langer afstande te sien. Mense wat TV kyk of op rekenaars werk, moet gereeld hul oë rus.

Kougom kan ’n mens se derms knoop.

#Onwaar. Al is dit waar dat kougom nie verteer kan word nie, sal dit nie jou ingewande knoop nie. Dit sal saam met ander onverteerbare kosse deur jou verteringskanaal beweeg. Maar as jy groot hoeveelhede borrelgom sluk, kan die borrelgom aanmekaarkleef en jou verteringstelsel verstop.

- Marlies Haupt