Volgens Arrive Alive is bestuurders wie se aandag afgelei word, in Suid-Afrika ’n “epidemie wat oor ons paaie heen versprei”. Die Nasionale Hoofwegverkeersowerheid plaas die gebruik van ’n selfoon boaan die lys van aandagafleiers.

“Navorsing toon dat dit gevaarliker is om boodskappe te stuur terwyl jy bestuur as om dronk en bedwelmd te wees. Motoriste is onverantwoordeliker wanneer hulle tik terwyl hulle bestuur en dit verhoog die kans op ’n ongeluk sesvoudig,” waarsku Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.

Ongeveer driekwart van respondent in ’n onlangse Amerikaanse studie het aangedui dat hulle op hul foon loer terwyl hulle bestuur. Die meeste dui aan dit is omdat hulle vertroue in hul vermoë het om meer as ding op ’n slag te doen.

Dis moeilik vir feitlik enigiemand om ’n paar goed gelyktydig te doen. ’n Studie onder leiding van prof. David Sanbonmatsu, van die departement van sielkunde aan die Universiteit van Utah, het selfs getoon dat diegene wat die meeste vertroue in hul eie vaardighede het talle goed gelyktydig te doen, in werklikheid die swakste daarmee vaar.

Hier is ’n paar wenke om jou oë van die selfoon af te hou:

• Sluit jou foon in die kattebak of elders in die motor weg om versoeking te voorkom.

• Onthou dat jy nie jou oë op die pad hou terwyl jy tik nie, jy maak staat op die brein se voorspelling dat die pad steeds oop is.

• Herinner jouself daaraan dat ’n sekonde se tekort aan konsentrasie op die pad ’n noodlottige ongeluk kan veroorsaak.

• As jy een van diegene is wat dink dat hulle kan meer as een ding op ’n slag goed doen, is jy waarskynlik verkeerd.

• Indien jy afgesny en angstig voel, en onttrekkingsimptome kry omdat jy nie jou foon kan sien terwyl jy bestuur nie, moet jy dringend werk maak van die probleem.

• Laai ’n app af wat voorkom dat boodskappe deurkom terwyl jy bestuur en senders in kennis stel dat jy op die pad is.

Bron: Persverklaring Virseker