Selena Gomez (21)

Taylor en Selena was tot onlangs nog beste pelle. Hulle het ontmoet toe albei met een van die Jonas Brothers uitgegaan het; Selena en Nick was saam, en Taylor het met Joe uitgegaan. “Ons het ontmoet toe sy 18 en ek so 15 of 16 was. Sy was baie gaaf met my en toe word ons beste vriende,” sê Selena.

Maar toe Selena onlangs weer haar aan/af-kêrel, Justin Bieber, terugvat, het Taylor haar uitgesny. Die country-prinses was glo ook vies omdat Selena haar pel, die sanger Ed Sheeran, “gebruik” het om Justin jaloers te maak nadat hulle uitmekaar is.

Dit lyk darem nou of Selena met haar lewe voortgaan. Sy en die werklikheidstelevisiester Kendall Jenner (18), toevallig die eksmeisie van een van Taylor se ekse, die One Direction-hartebreker Harry Styles, is onlangs saam by ’n bekende eetplek in Los Angeles afgeneem.

Emma Stone (25)

Taylor en die aktrise van Spider-Man-faam is al jare lank vriende. Sy bel Emma as sy deur ’n moeilike tyd gaan nadat sy met iemand uitgemaak het, sê Taylor. En die aktrise sê sy hou van haar pel se plat-op-die-aarde geaardheid. “Taylor is ’n doodgewone meisie. Sy dink nie ‘ek is een van die wêreld se gewildste sangeresse’ nie.”

Sarah Hyland (23)

Selena het Taylor en die Modern Family-aktrise verlede jaar by die MTV-musiekvideopryse aan mekaar voorgestel en hulle is sedertdien onafskeidbaar. Sarah en Taylor het saam Nuwejaarsdag gevier en het vroeër vanjaar ná die Golden Globes gekuier. “Baie mense wat ek ontmoet het, het ’n vooropgestelde idee (oor haar), of eerder dit wat hulle in skinderblaaie oor haar lees. Maar sy is een van die ongelooflikste mense wat ek nog ontmoet het,” sê Sarah.

Kelly Osbourne (29)

Ontmoet die pel saam met wie Taylor graag bak! Taylor het in Oktober verlede jaar foto’s op Instagram gedeel van haar en die Fashion Police-ster wat sjokolade-pepermentkoekies bak. En Kelly kon ná vanjaar se Golden Globes nie uitgepraat raak oor hoe mooi Taylor in haar rooi rok deur Carolina Herrera gelyk het nie.

Hailee Steinfeld (17)

Taylor is nou wel sewe jaar ouer as Hailee, maar die twee het ’n hegte band. “Ons het ’n paar jaar gelede ontmoet; sy is soos ’n ouer suster vir my,” sê Hailee. “Sy is die beste luisteraar. Ek voel ek kan haar bel of ’n teksboodskap stuur ongeag waar in die wêreld sy is, en sy sal altyd daar wees vir my.” Oulik.

Ed Sheeran (23)

Ten spyte van gerugte dat daar iets tussen hulle is, lyk dit of Taylor en die Britse sanger net goeie vriende is. Ed het in die voorprogram van Taylor se Red-toer opgetree en hulle sing haar liedjie Everything Has Changed saam. “Ek het nog nooit tevore so ’n hegte vriendskapsband met ’n ou gehad nie,” sê Taylor.

Lorde (17)

Ons het gedink dié twee sou vyande wees nadat Lorde gesê het Taylor is “te perfek en onbereikbaar”, maar Taylor weet beslis hoe om mense met haar vriendelikheid te oorweldig. Die Nieu-Seelandse sangeres was “stomgeslaan” toe Taylor vir haar rose stuur nadat haar liedjie Royals boaan die trefferlyste beland het. En sedertdien is hulle beste maats.

Dianna Agron (27)

Die Glee-aktrise is een van die vriendinne aan wie Taylor haar liedjie 22 opgedra het. Nadat haar album Red uitgereik is, het Dianna gesê: “Ek is baie trots op haar. Sy is ’n ongelooflik hardwerkende en talentvolle meisie.”

Jessica Szohr (29)

Die voormalige Gossip Girl-aktrise was een van Taylor se vriendinne in die musiekvideo vir 22, wat in Malibu geskiet is. “Ons is almal saam deur mislukte verhoudings en goed. Toe vra sy ’n paar van ons om ’n prettige dag op die strand saam met haar deur te bring,” sê Jessica.

Jennifer Lawrence (23)

Die Hunger Games-aktrise is een van Taylor se beste SMS-pelle. Die twee is mal daaroor om vir mekaar boodskappe te stuur, veral wanneer hulle trots voel op mekaar. En wie kan Jen se koel fotobom by vanjaar se Golden Globes vergeet terwyl Taylor besig was met ’n onderhoud met die E!-aanbieder Ryan Seacrest?

Gwyneth Paltrow (41)

Praat van ’n onwaarskynlike vriendskap! Taylor het al in Londen saam met die aktrise en haar eksman, die Coldplay-sanger Chris Martin (37), gaan uiteet. Die gewese paartjie het haar in 2010 aan haar eks, die akteur Jake Gyllenhaal (33), voorgestel.

Katy Perry (29)

Taylor het al gepraat oor haar vriendskap met die Roar-sangeres en selfs vir Katy verhoog toe genooi om Katy se liedjie Hot n Cold saam te sing. En hulle het natuurlik ook ’n eks in gemeen; die berugte rokjagter John Mayer.

BRONNE: PEOPLE, TEEN.COM, WENN, INSTAGRAM, US WEEKLY, ASSOCIATED PRESS, PEREZHILTON.COM, HOLLYWOODLIFE.COM, HERALD SUN, NYPOST.COM, V MAGAZINE, TVNZ.CO.NZ, DAILYMAIL.CO.UK, USMAGAZINE.COM