En die wenner is . . . span Good Better Braai!

Die laaste aflewering van SABC3 se werklikheidsreeks Ultimate Braai Master is Woensdag 18 Desember uitgesaai. En die langafstandmaats Jacques Bester en Nadia Botha het die titel van Suid-Afrika se Ultimate Braai Master vir 2013 opgeraap.

Jacques sê: “Ek en Nadia het nooit moed opgegee nie, selfs toe ons uitgeput en die spanning hoog was.”

Die slotaflewering is in Die Strandloper-restaurant op die Weskusdorp Langebaan verfilm. Jacques en Nadia het as oorwinnaars uit die stryd getree ná ’n agt uur lange bring-en-braai-uitdaging. Hul teenstanders was die twee ander topspanne, Kate George en Jonno Proudfoot van Coal Play en die broers Etienne en Hein Gersbach van West Coast Bro’s.

In dié werklikheidsreeks het Suid-Afrika se top-15 spanne, bestaande uit ’n braaimeester en ’n braaimaat, dit uitgespook in ’n ekstreme buitelug-kookreis van 60 dae na alle uithoeke van Suid-Afrika. Op elke bestemming is die spanne uitgedaag om die grense te verskuif van wat op ’n oop vuur gaargemaak kan word.

Jacques, die eienaar van ’n ysterwarewinkel op Port Nolloth sonder enige kookervaring, en Nadia, die bestuurder van ’n gastehuis in Windhoek met opleiding by ’n sjefskool, het nie gedink hulle sou verder as die eerste ronde vorder nie.

“Maar ons het deurgedruk en nou is dit so ’n seëning om as die Ultimate Braai Masters van 2013 bekroon te word,” sê Nadia.

“Die kompetisie het my gewys dat selfs dit wat jy as onmoontlik beskou, bereik kan word met ’n bietjie geluk en baie harde werk,” sê Jacques.

Hulle het die gesogte titel, R500 000 kontant en ’n Renault Koleos 4 x 4 losgeslaan. Coal Play en West Coast Bro’s is elkeen met ’n kontantprys van R100 000 huis toe.

“Toe Justin bekendmaak ons het gewen, het dit baie onwerklik gevoel,” sê Nadia. “Dit het my baie nader aan ons erfenis laat voel, want dit is wat ons as Suid-Afrikaners doen: Ons braai. Om van die hele ervaring deel te wees, nuwe mense te ontmoet en nuwe vriende te maak, myself te leer ken, in die buitelug in ons pragtige land te wees en, natuurlik, om my maat beter te leer ken was ’n kosbare geskenk. Ek het herinneringe wat ek altyd sal koester.”

  • Is jy dalk Suid-Afrika se volgende Ultimate Braai Master? Skryf nou by www.ultimatebraaimaster.com in vir die derde seisoen van Pick n Pay se Ultimate Braai Master: Time for Tough.
  • Inskrywings sluit om middernag op 14 Februarie 2014.