Nissan het pas die tweede geslag van sy gewilde Qashqai bekendgestel. Volgens dié vervaardiger is reeds meer as tweemiljoen eenhede wêreldwyd verkoop sedert die Qashqai se bekendstelling in 2007. Hulle verwag die nuweling sal teen aanstaande jaar in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Die nuwe Qashqai spog met ’n vars voorkoms en talle nuwe tegnologiese geriefs- en veiligheidskenmerke.

Dit is ook ’n fraksie groter as tevore en is 49 mm langer en 20 mm breër, terwyl daar meer ruimte binne-in is. Die bagasieruim is nou 430 L, 20 L meer as die oue s’n.

Volgens Nissan is die nuwe Qashqai ook 40 kg ligter as sy voorganger en is daar splinternuwe turbo-aangejaagde enjins.

Die intreevlak-petrolmodel het ’n 1,2 L-turbo-enjin wat 85 kW krag en 190 Nm wringkrag lewer. Dit beteken die verrigting is selfs ietwat beter as ’n gewone 1,6 L-enjin. Boonop is die verwagte brandstofverbruik 5,6 L/100 km of 17,9 km/L.

Die top-petrolmodel kry ’n 1,6 L-turbo-enjin wat 110 kW en 240 Nm ontwikkel, terwyl die brandstofverbruik soortgelyk is as dié van die 1,2 L-model. Daar is ook twee turbodieselenjins, ’n 1,5 L en 1,6 L, beskikbaar.

qashqai-2