Carmen Niehaus – ons kosredakteur

carmenafter pics

Die kaptein van ons skip. The Brain vir ons Pinky. Die dokter Xavier vir ons X-Men (of vroue en een man in ons geval). Sy het al amper 25 jaar ervaring met kos en als wat daarmee verband hou. Dis langer as wat ek oud is. Liefhebber van vars koljander, bloukaas, Griekse jogurt, varknek en enigiets Marokkaans. Alles van ’n “storie met ’n kinkel” tot “hoender op vyf maniere” begin by Carmen – of dit nou is om ’n gemiddelde resep in iets uitsonderliks vir die volgende Top-500 te omskep of om ’n eenvoudige sjokoladekoek soos iets uit ’n tydskrif te laat lyk. (Haha, wag, dit is iets uit ’n tydskrif!) Carmen is die doodhonger man se beste vriendin en wegneemkos se grootste nagmerrie.

Carmen Petersen-Hendricks – kombuisbestuurder

staff pics carmen Pietersen

Ja mense, nog ’n Carmen. As ons nie kan uitpluis wie veronderstel is om iets te doen nie, wend ons ons tot Carmen PH. Noem dit en Carmen kan dit waarskynlik doen. Sy tower talle resepte op. Sy is die meesterbakker (hierdie punt word nog betwis en ek en sy sal binnekort in ’n bakwedstryd meeding), die Jackson-danseres (dié een kan ’n paar koel passies uithaal) en Bruno Mars-bewonderaar (sy sing ook heel skaflik saam). Sy is die kortetjie met die voorskoot en suikertand wat ons almal bymekaar hou.

David Briers –  fotograaf

Dawid

David, oftewel oom David (al man in die hele gebou vir wie ons oom noem), moet deel van die span wees, want hy is ons gunsteling-kosfotograaf. Ek dink dis vir hom onmoontlik om ’n foto te neem wat nie wonderlik lyk nie. En as jy ons kos laat goed lyk, sal daar mooi na jou gekyk word. Oom David is ’n bewys daarvan. Of ek hom nou met my bekende ontbyt van roereiers en spekvleis op roosterbrood bederf of vir hom ’n bakkie pistasieneute eenkant hou, dié oom word soos ’n koning behandel.

Esther Malan – kosassistent

estherM

Dis ek! Carmen Niehaus se volgeling en skrywer van hierdie baie insiggewende stuk oor die span wat die kos laat gebeur. Ek is die 22-jarige (amper 23) aspirant-kosjoernalis. Ek het as leerlingjoernalis begin met die fotokopieerder my beste vriend. Nou het ek my eie lessenaar en ’n rekenaar (ek voel nou baie spesiaal hier) en is ek die trotse skrywer van my eie kosblad in Huisgenoot, Vat Vyf. Ek is bekend vir my kombuisontbyte slegs op uitnodiging, vreemde musieksmaak en sondig verslawende bruintjies. Ek is die blosende jongeling onder die klomp.

Dis dan die span. Die mense wat daarvoor verantwoordelik is om die kosblaaie met watertand-ek-wil-die-bladsy-eet-resepte te vul. Ons is ’n goed geoliede masjien wat onder ons medewerkers as die A-span bekend staan. (Oukei, kom ons wees eerlik, ons noem onsself die A-span.) Ons kook soos sjefs en skryf soos joernaliste. Ons bring orde in die chaos. Ons is die kosspan.

Bly ingeskakel, hierdie spulletjie kan net interessant raak . . .