Jy het amper nie die rol van Tris aanvaar nie omdat jy bang was vir die roem wat daarmee gepaard sou gaan. Hoekom het jy van plan verander?

My ma (Lori) was ’n groot deel daarvan. Ek leef ’n eenvoudige lewe en die idee dat dit sou verander, was vir my vreemd.

Waarvan hou jy omtrent Tris?

Ek hou daarvan dat sy ’n onafhanklike denker is en vrae stel. Sy luister meer na haarself as na enigiemand anders. Nie baie mense dink deesdae vir hulself nie. Ek kan daarby aanklank vind. Ek leef vir myself. Ek is baie passievol, nes Tris.

Waarvan hou jy die meeste omtrent Theo James as Four?

Theo is manlik en sensitief. Dis moeilik om te vind. Deesdae is akteurs óf baie vroulik of nie vroulik genoeg nie. Hy was die perfekte balans. Die oomblik toe hy instap en sy oudisie gedoen het, het almal dadelik geweet (hy is die regte een).

Jy doen meeste van jou eie waagtoertjies. Het jy enige littekens opgedoen?

Ek het! Daar is ’n paar littekens op my knie en bors.

Wat was die ergste waagtoertjie wat jy gedoen het?

Ons moes hardloop en op en af van treine spring; dit was nogal intens. Ek het gestruikel en geval en is ’n minuut lank deur ’n trein gesleep!

Watter faksie sou jy kies as jy in daardie wêreld gebly het?

Ek sou waarskynlik kies tussen Abnegation en Amity. Ek dink landbou, onselfsugtigheid en deernis is baie belangrik.

Het jy enige ander gunsteling-karakters in die boekreeks?

Ek is ’n groot aanhanger van Peter. Ek dink hy is ongelooflik ingewikkeld en geheimsinnig. Ek hou ook van Four. Jy kan sien hy is gebroke en moet aan homself werk, maar hy hardloop nie weg daarvan nie. Ek bewonder dit.

Wat is jou grootste vrees?

Dat ek nie genoeg sal doen nie.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Enigiets in die buitelug. Ek kook baie en gaan na plaasmarkte.

Het jy enige versteekte talente?

Ek kan sing!

Wat is die een ding waaraan jy heeltemal verslaaf is?

Kos. Ek hou van alle soorte.

Wat sou jy wees as jy nie ’n aktrise was nie?

Ek het kruiekunde bestudeer. Dis die kuns om te weet watter kruie het geneeskrag. Dis waar ek my opvoeding en kreatiwiteit vandaan gekry het.

Pretfeite

  • Shailene is vir ’n Golden Globe benoem vir haar rol as George Clooney se dogter in die komediedrama The Descendants in 2011.
  • Sy verpes hakskoene en hou ook nie van rooitapytgeleenthede nie.
  • Sy volg ’n plantgegronde dieet en maak haar eie medisyne. “Ek gaan kry elke maand my eie water uit die berge. Ek koop my kos by ’n plaasmark. Ek maak alles, van my eie tandepasta tot my eie lyfrome en gesigolies.”
  • Sy is op 15 met skoliose gediagnoseer en moes ’n rugstut dra om haar ruggraat reguit te kry