Waar woon jy?

Pretoria.

Som jouself in drie woorde op.

Oorspronklik, humoristies, passievol.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

My ma het my op vier geleer hoe om ordentlik tee te maak (in ’n pot, laat dit trek op die stoof, dek ’n skinkbord, skink eerste die melk), so op ses kon ek ’n propperse witsous (volgens die Roux-metode) maak en op agt ’n sjokoladekoek. As tiener het ek die kombuis vermy en net af en toe iets gekook; Saterdae moes ek middagete maak en koek bak vir Sondagmiddag-koffie, maar in my 20’s het ek begin kook, deels omdat my huishoudkunde-juffrou in gr. 9 gesê het ek kan glad nie kook nie en gaan nooit ’n man kry nie. Dit was skielik vir my lekker om vriende en familie te onthaal met nuwe resepte en metodes, en ook om hulle te verlos van soppoeier.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

As jy kan lees, kan jy kook.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Jan-Hendrik van der Westhuizen se balsemtamaties met ’n basilie-en-kaasslaaitjie. Vir die hoofgereg sal ek roosmaryn-skaaptjops berei met aartappel-en-peperwortel-puree en ’n avodako-en-sitrusslaai, maar net as dit in seisoen is, andersins iets vars en ligs om die skaapvet af te breek. As die kuiertjie in die herfs is, daar genoeg tyd is en die Duitse slaghuis in die straat af voorraad het, sal ek konyn met vars druiwe voorsit, of varknek met vars kersies en appelkose. Vir nagereg sal hulle melktert-makrolletjies kry, of ’n botterkoek met grenadellaroom.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Marinda. Sy is eerlik, passievol, opreg en diepsinnig.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Iemand soos Jenny Crwys-Williams of Amore Bekker, wat mal is oor kos. Ook vir Nataniël omdat hy altyd vir almal moet kook. As ek vir ’n internasionale persoonlikheid kon kook, definitief Leonard Cohen en Jack Vettriano omdat hulle my siel met hul sang en kuns voed, en vir Daniel Day-Lewis, vir redes wat ek nie in ’n gesinstydskrif kan noem nie . . .

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Melktert, want dit is nie oordadig soet nie. Daar is niks fout met melktert vir ontbyt nie (daar is dan so baie melk en eiers in!), om nie eers te praat van ’n koue stukkie melktert met boerewors vir middagete nie.