Waar woon jy?

Bettysbaai.

Som jouself in drie woorde op.

Spontaan, opreg, kunssinnig.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek was nege toe ek besluit om aandete vir die gesin te kook: oondhoender, aartappels, soetwortels en groenboontjies; boerekos soos my ma gemaak het – en dit was gaar!

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Jou gemoedtoestand beïnvloed die eindresultaat. ’n Tikkie liefde word definitief geproe en ’n koek wat in ’n slegte luim gebak word, sal uit die staanspoor flop.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Daar is altyd vars vis in my huis en drie braaiplekke – een in die sitkamer, een uit die pad van die suidoostewind en een weg van die noordwester. By my gaan ons seekos braai, maak nie saak wanneer jy kom kuier nie.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Ek kyk nie TV nie en het ongelukkig nie die eerste seisoen gekyk nie.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Roem is nie regtig iets wat my beïndruk nie, maar Madiba en Wolraad Woltemade is wel helde wat ek respekteer.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Braaivleis. Gaan kyk maar na die ou familiekiekies; al die belangrike geleenthede word met ’n ou braaitjie gevier.