Waar woon jy?

Pretoria.

Som jouself in drie woorde op.

Entoesiasties, liefdevol, veerkragtig.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Toe ek 11 was, het ek stilletjies op ’n bus geklim, gewapen met ’n inkopielysie en ’n paar rand. Ek was op pad om vir my ma ’n verjaarsdagete te kook wat sy en haar vriende nie gou sou vergeet nie. Op die spyskaart was piesangeend met lemoensous, spanspek met parmaham en piesangkerse. Die ete was ’n reuse sukses en het tot handgeskrewe spyskaarte gehad.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Om biefstuk in ’n baie warm, swaar pan – verkieslik ’n ysterpan – te braai, en om nooit die vleis los te maak van die pan voor dit nie vanself loskom nie; dis dan dat jy weet dis geseël en bruin; dieselfde geld vir visfilette. Hou die pan net warm, maar nie so warm dat dit begin rook nie.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Biefstuk met pepersous, skyfies in stokkies, en ’n roket-, tamatie-en-uieslaai met ’n eenvoudige sousie.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Ek het aanvanklik baie van Toinette gehou, veral haar no nonsense-houding. Later het ek ook van Tiaan gehou; sy selfvertroue en liefde vir kos is heeltyd merkbaar.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Hunter Kennedy, want hy is so wonderlik met woorde soos wat ek met kos is. In die buiteland ook Gordon Ramsay; hy is vir my net so sexy en verstaan hoe om kos eenvoudig te hou.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Boerewors; dis die ding wat mense se verbeelding, smaakkliere en maag onmiddellik aangryp. Elke ou het sy eie geheime resep en voorkeur. En as jy begin praat oor fiemies en geite, praat ’n bietjie oor boerewors; die tonge sal klap!