Waar woon jy?

Gordonsbaai.

Som jouself in drie woorde op.

Energiek, passievol, selfverseker.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek was so vyf toe my ma klein koekies begin bak vir winkels; ek het maar baie gehelp.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Probeer vars produkte gebruik; partykeer is dit nie moontlik nie, maar dit maak die wêreld se verskil. En maak altyd genoeg kos; jy weet nooit wie onverwags aan jou deur gaan klop nie.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Tapas, tapas, tapas! As hulle oor 30 minute by my is, wil ek nie heeltyd voor die potte staan nie; ons moet darem ook ’n kuiertjie inkry. Ek is van daai mense wat altyd iets in hul koskas of yskas het, so ek sal daai groot houtborde uithaal, mieliebrood in die oond druk en olywe, aspersies, ’n paar smere, ’n vinnige groenkruieslaai en heerlike kaas opdis. O, en natuurlik genoeg goeie wyn!

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Marinda, want sy het dieselfde kookstyl as ek. Tiaan is ook een van my gunstelinge. Ek verstom my aan sy innoverende aanslag op tradisionele resepte.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Nataniël, want dit is heerlik om vir ’n mens te kook wat met alles in hom wys hoe dit geniet word. Ná die gekook kan jy jou indink hoe lekker daar om die tafel gekuier sal word, die stories wat die trane sal laat loop en die staaltjies van mense in sy verlede.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Tamatiebredie, natuurlik! En nie net omdat ek ’n bitter lekker een maak nie, maar dit is iets waarmee ek grootgeword het.