Waar woon jy?

Pretoria.

Som jouself in drie woorde op.

Borrelend, vriendelik, dinamies.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek was in gr. 2. Ek het meellose sjokolade-rotskoekies gemaak; daardie soort waar jy ’n groot, taai sjokolademengsel maak met botter, stroop en kakao en dan enige graanvlokkies daarby ingooi wat jy in die kombuis kan kry. Ek het elke keer iets anders bygegooi: kersies, malvalekkers of klapper, asof dit elke keer ’n heel nuwe resep is wat ek probeer. Ek het in gr. 4 mikrogolf-fudge gemaak en dit elke middag ná skool aan klasmaats verkoop. Later was dit so gewild dat ek elke pouse fudge moes verkoop; ek’t nie tyd gehad om met my maats te speel of toebroodjies te eet nie.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Kook uit jou hart, want kos sonder liefde proe sleg; dis die een bestanddeel wat ek nooit vergeet nie. Ander raad wat ek altyd by my ma kry: Gooi ’n ekstra eier by enige gebak en meet die bakpoeier met ’n boereteelepel af – dis nou ’n opgehoopte teelepel. Bak koeke en kolwyntjies by 160 ºC as die resep 180 ºC voorskryf; hy sal langer bak, maar die eindproduk is vogtiger.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Koeskoesslaai met pers kool, nektariens, rou groenbone, heel pitmielies, knoffel, uie, tamaties en feta. Ek sal ook ’n sousie van heuning, suurlemoensap en lekker baie peper oorgooi. Ek het altyd hoender in my yskas, so ek sal dit ook bedien, of dalk spek of tuna. My koeskoesbeslag is ’n moerbeiresep, en dit maak dit baie veelsydig; jy kan enige proteïen daarmee bedien. Die nektariens maak dit soveel lekkerder. As dit buite seisoen is, sit ek lemoene, lietsjies of aarbeie by. Roket is ook altyd ’n moet.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Marinda. Ek glo ook ’n mens moet nooit sonder lipstiffie kook nie, anders skrik die kos vir jou en sal dit ’n flop wees. Lipstiffie gee my selfvertroue en ’n hupstoot.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Ek sal baie graag vir Nataniël wil kook. Ek dink ek sal glad nie op my senuwees wees nie, want hy sal my so laat lag. Om te lag plaas my op my gemak en dan leef ek in die oomblik en geniet myself voluit. Ek dink nie hy’s vol fiemies en fieterjasies nie; daarom sal ek hom maklik met hartskos kan beïndruk. Ek sal ook bitter graag vir Errieda du Toit wil kook. Sy is so ’n liefiemens, en dit sal ’n eer wees om haar bekend te stel aan my hartskos. Sy is baie passievol oor kos, en ’n mens kan daardie vonkel in haar oë sien elke keer dat sy ons eindproduk ná elke uitdaging kom besigtig het. Ek dink ’n tafel met Errieda, Nataniël en ook Mariëtta Kruger sal my wenslysie wees; dis drie pragtige mense. Mariëtta en Errieda was moederfigure vir my. Hulle het altyd ’n sagte woordjie vir my gehad en my gemotiveer sover hulle kon.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Mieliepap, dink ek. Daar is soveel variasies en elke kultuur maak hom anders. Tot die Portugese en Italianers eet polenta, wat amper identies aan ons mieliepap is. Die Portugese braai gestolde blokkies mieliepap in olie; dis heerlik! Of jy nou papballetjies maak met ’n tamatiesous, krummelpap of slappap met botter en biltongpoeier, is daar min mense wat nie daarvan hou nie.