Waar woon jy?

Op die mooiste dorp in die land: Langebaan.

Som jouself in drie woorde op.

Opreg, hardwerkend en humoristies.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Ek was seker so sewe en het vir die kerk koeksisters gebak. My ma was pastoriemoeder en ek was maar altyd tussen die tantes se gebakkery. Ek kry nou nog bestellings!

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Lees al wat ’n kookboek is, maar as jy eers begin kook, gooi die boek weg en kook uit jou hart uit.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Hier’s baie snoek op die Weskus; ek sal dit lekker op die kole braai met sout, peper en vars suurlemoene. Terwyl ek vir die kole wag, sal ek ’n heerlike beetslaai maak en gou-gou ook patatroosterkoek. Vir nagereg klits ek gou ’n malvapoeding aanmekaar. So wanneer kom julle?

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Beslis Marinda. Haar passie vir lekker kos is aansteeklik en sy was opreg en eerlik.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

Vir myself, maar ek is nog nie bekend nie (lag). As ek dan nou moet, sal dit vir Tannie Evita Bezuidenhout van Darling wees. Sy is mos ’n fynproewer van formaat en dit sal vir my ’n groot eer wees om vir haar te kan kook.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Daar is soveel om te noem; dis hoekom daar programme soos Kokkedoor gemaak word. Ek dink beslis enige gereg wat op die kole berei kan word. Vandat ek kan onthou, koester Suid-Afrikaners hul braaidisse oor die kole; dit is deel van ons kultuur en mens kan alles daarop gaar kry. Elke persoon in hierdie land het sy eie unieke braaistorie en manier van doen wat die vuur betref. Almal kan ook betrek word. Ek gaan nou dadelik braai!