Waar woon jy?

In die pragtige Tradouw-vallei, 12 km voor Barrydale op die R62.

Som jouself in drie woorde op.

Vernuftig, kunstig, ondernemend.

Hoe oud was jy toe jy begin kook en wat het jy berei?

Op laerskool al. Heuningkoek was my ding.

Wat is die beste raad oor kook wat jy al gekry het?

Minder is meer.

Die Kokkedoor-beoordelaars laat weet onverwags hulle kom oor 30 minute by jou eet. Wat sal jy kook?

Vir ’n voorgereg, Klein Karoo-tapas en borde peuselhappies met varsgebakte brode, ingelegde vye, kase, volstruislewer en uiemarmelade. Vir hoofgereg, ’n gebrandebottersalie-en-bergsampioenpasta wat ek self gemaak het met baie vars kruie.

Watter van die eerste seisoen se deelnemers was jou gunsteling en hoekom?

Toinette, veral haar geaardheid en rustigheid.

Vir watter bekende sal jy graag wil kook en hoekom?

My man, Meyer Joubert (’n wynmaker van Joubert-Tradauw Wingerde en Kelder); hy is die moeilikste ou om te beïndruk. Ook Nataniël; hopelik kan hy klavier speel terwyl ek kook. En Errieda du Toit – my gunstelingmens in die wêreld.

Wat dink jy is Suid-Afrika se gunsteling-onthoukos en hoekom?

Afval is eintlik baie Frans. Ek het lank in Frankryk gewerk, en vir hulle is dit ’n spesialiteitsdis. Ek hou van afval met ’n kinkel, of murgbene gebak in botter en Joubert-Tradauw-chardonnay.