KOM ek draai nou maar nie doekies om nie. Ek hou van my gemak. Sommer baie.

Maar toe M-Net my na die Maledive-eilande nooi om vir ’n dag saam met die deelnemers aan die jongste Survivor-werklikheidsreeks te probeer oorleef, was ek nie te bekommerd nie. Hoe erg kan een dag dan nou wees?

As Christina Storm en Cindy Nell-Roberts dit kan doen, kan ek sowaar ook . . .

So klim ek, gewapen met ’n paar luukse items in my tas, saam met 13 ander mediamense op ’n vliegtuig na die Maledive: weggooibare kontaklense, ’n hele paar pakkies klam lappies, ’n sonhoed en sonskerm. Op die nippertjie gooi ek ’n strandhanddoek in, “dit kan help teen die koue en jou droog hou,” gee my kêrel raad.

Terwyl ons in Doebai wag vir ons vlug na die Maledive, begin ons al alliansies smee. Niemand wil tog eerste uitgestem word nie.

Die eiland Kuda-Funafaru waar ek uiteindelik beland, is ’n ware paradys en my luukse villa wat met sy voete in die see staan, lyk soos iets uit ’n vakansiebrosjure. Maar laataand kry ek ’n SMS. “Die spel het begin. Trek môreoggend jou Survivor-klere aan en pak wat jy dink jy nodig het vir die eiland . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 3 Maart 2011