Jy kan nie anders as om dol te wees oor die ster van New GirlZooey Deschanel nie! Sy is oulik verby – die frillerige rokkies, daardie groot blou oë en bleeksiel-brille. Lees meer oor die donkerkop-ster wat die kassie aan die brand speel

Waaroor gaan New Girl?

Zooey speel die rol van Jess, ’n enkelloper in haar twintigs wie se verhouding misluk en wat dan by drie enkellopende ouens intrek in die trefferreeks. “Ek sien Jess as ’n 13-jarige weergawe van myself,” sê Zooey.

Meer oor Zooey

1 Sy is vernoem na die manlike karakter in die Amerikaanse skrywer JD Salinger se boek Franny and Zooey.

2 Die vermaakbedryf is in haar gene! Haar pa, Caleb, is ’n Oscarbekroonde  kinematograaf, en haar ma, Mary Jo Deschanel, was ook ’n aktrise (sy het in Twin Peaks gespeel). Haar suster is Emily Deschanel, ster van die TV-reeks Bones.

3. Sy kan sing! Zooey is die She in die suksesvolle indie popgroep She & Him en hulle sing die temaliedjie vir New Girl.

4 Zooey is nes Jess deesdae ’n enkelloper. Sy het in Januarie aansoek om ’n egskeiding van haar man van twee jaar, die Death Cab for Cutie-sanger, Ben Gibbard, gedoen. Sy het onlangs gesê sy gaan nie op die oomblik uit met ouens nie. “Ek het nie tyd nie. Ek het letterlik nie tyd daarvoor nie.”

5 Sy het 12de plek behaal op Askmen.com se Top 99 Begeerlikste Vroue van 2012 – maar moet dit nie waag om haar sexy te noem nie. “Ek wil nie ’n prikkelpoppie wees nie,” sê sy. “Ek wil nie hê ydelheid moet ooit ’n rol speel nie, want dan moet jy  heeltyd bewus wees van jouself en dit staan in die pad van goeie toneelspel.”

Zooey se mode-wenke

Sy is bekend vir haar aweregse retro-voorkoms. Hier deel sy van haar beste stylgeheime.

Wat is die beste manier om antiek-sjiek klere te dra? “Dra dit wat goed lyk aan jou. Materiale het die afgelope paar jaar baie gemakliker geraak en nuwe klere met ’n antiek-sjiek voorkoms is ook ’n goeie opsie.”

Enige grimeerwenke? “As jy jou vel versorg sal jy nie baie grimering nodig hê nie. Gebruik oogskadu wat verskil van jou oogkleur.”

Wat is die waardevolste item in jou kas? “My 1960-styl militêre styl baadjie van Courreges.”

Wat inspireer deesdae jou styl? “Ek dra baie oulike klere in New Girl en dis altyd pret en inspirerend. Ons het ’n ongelooflike kostuumontwerper, Debra McGuire. Ons is soos bleeksiele as dit kom by mode.”

EKSTRA BRONNE: http://www.bettyconfidential.com; http://www.fedge.net