Ná ’n landwye soektog en duisende inskrywings is Suid-Afrika se Heidi-dubbelganger gevind: Bella Human van Graaff-Reinet. Dié vriendelike sewejarige hou van buite speel, glimlag en wawiele uitvoer. Haar tweelingboeties kan soms die lewe vir haar moeilik maak, maar meestal speel hulle lekker saam.

Bella Human (7) van Graaff-Reinet is die wenner van ons kompetisie!

Bella Human (7) van Graaff-Reinet is die wenner van ons kompetisie.

Bella se ma, Tammy Morris, is baie opgewonde oor haar dogter se nuwe titel. Die gesin sien uit daarna om saam te gaan uitspan en baljaar by die Little Switzerland-vakansieoord in die Drakensberge as deel van Bella se prys. Hulle gaan vier nagte in ’n selfsorg-chalet deurbring en vierwielfiets-, perd- en stampkarretjieritte geniet. Bella wen ook ’n Heidi-geskenkpak.

Die dubbelgangerkompetisie is van stapel gestuur om die uitreiking van die nuwe fliekweergawe van die Heidi- verhaal te vier. Dit draai sedert 2 September in fliekteaters landwyd. Anuk Steffen is Heidi, Bruno Ganz is haar oupa en Quirin Agrippi is Peter.

Die fliek is in Duits vervaardig en in Afrikaans vertaal en oorgeklank. Henrietta Gryffenberg is die oorklankingsregisseur en die rolverdeling sluit in: Jenna Dunster (Heidi), Charlenè Brouwer (Klara), Anel Alexander (tante Dete), Rolanda Marais (juffrou Rottenmeier), Ruan Wessels (Peter) en Sandra Prinsloo (Klara se ouma).

Louis van Niekerk is terug in die rol van Heidi se oupa, Almöhi, wat hy ook in die animasiereeks vertolk het. Annelisa Weiland, Heidi se stem in die animasiereeks, is ook deel van die rolprent in die rol van Peter se oumagrootjie.

Die rolprent handel oor Heidi wat haar gelukkigste tye as kind by haar eksentrieke oupa, Almöhi, deurbring. Hy woon in ’n eenvoudige huisie in die Switserse berge, afgesny van die buitewêreld. Sy en haar vriend Peter pas saam Almöhi se bokke op en geniet die vryheid wat hulle in die berge het. Maar dan neem Heidi se tante Dete haar Frankfurt toe.

Foto: Skermgreep / YouTube

Die idee is dat sy by die ryk mnr. Sesemann en sy gesin moet inwoon en ’n maatjie sal wees vir sy dogter, Klara, wat in ’n rolstoel is. Sy kan dan terselfdertyd onder die wakende oog van die streng kinderoppasser juffrou Rottenmeier leer lees en skryf.

Hoewel die twee dogtertjies gou maats word en Klara se ouma ’n liefde vir boeke by Heidi kweek, word haar verlange na haar geliefde berge en Almöhi by die dag ál meer onuithoudbaar.