Suid-Afrika se Karoo-kos en wildsvleiskoningin, Annatjie Reynolds, het die deelnemers aan kykNET se Kokkedoor gisteraand omtrent laat sweet toe sy hulle as gasbeoordelaar touwys gemaak het in die fynere kunsies van kook met wildsvleis.

Sy vertel Huisgenoot “êrens tussen Richmond en Victoria-Wes” oor haar tydjie op die stel, hoekom wildsvleis beter as enige ander vleis is en gee vyf kopieë weg van die kookboek Karoo Wildsvleis.

Waar kom jou liefde vir Karoo-kos en wildsvleis vandaan?

Ek is ’n Karoo-girl. Dis grootwordkennis . . . ’n grootword-ondervinding. Ek het in die Karoo grootgeword met ’n sterk familie: My tannies, neefs en niggies was saam op die plaas en ons het saam met die grootmense met vleis gewerk. Dis deel van die lewe op die plaas. Dis iets wat ek kan doen en wat ek ander met selfvertroue wil leer. ’n Mens kan nie kos maak as jy nie ’n karkas ken nie.

Wat is jou raad vir kokke wat nog nooit met wildsvleis gekook het nie?

Hulle moet eerstens met vleis van ’n goeie gehalte werk. Die beste kokke en sjefs kan nie ’n goeie dis maak as hulle met swak vleis werk nie. Wildsvleis moet gejag word. Dit moet rondhardloop; jy proe en sien dit in die vleis. As dit goed gejag is, verkieslik met ’n kopskoot, dan moet dit eers in die vel ryk word.

Waar kry ’n mens goeie wildsvleis?

Dis ’n strikvraag, want partykeer het winkels dit, ander kere nie. Ek en vier van my vriendinne op Richmond het ’n plek oopgemaak, Die Vetmuis Plaaskombuis, want almal vra waar hulle goeie wildsvleis in die hande kan kry; dis nie sommer net beskikbaar nie. By Die Vetmuis Plaaskombuis het ons goeie vleissnitte. Andersins moet jy maar ’n goeie slagter in die omgewing soek.

Wat maak wildsvleis beter as enige ander vleis?

Dis natuurlik baie lekker, maar die grootste voordeel is dat dit gesond is; dis organies en daar’s niks cholesterol in nie. As ek bobotie maak met wildsvleis, is daar nie ’n lagie vet bo-op nie.

Hoe was jou Kokkedoor-ondervinding?

Dit was geweldig besonders. Die hele set up wat hulle daar opgerig het, is mind-boggling. Die hoeveelheid mense met die verskillende kameras en televisies en hoe hulle in-zoom . . . daar het ek my gesit en verkyk.

Hoe voel dit om die “koningin” van Karoo-kos en wildsvleis genoem te word?

Wel, daar’s baie mense wat meer van wildsvleis weet as ek. ’n Mens voel verleë, klein, nederig, maar ek het dit geniet. Dit was natuurlik lekker, maar ek moet net beklemtoon: Daar is mense wat meer weet as ek. Hulle noem jou die koningin en dis entertaining.

SMS EN WEN

Vyf lesers kan elk ’n kopie wen van die kookboek Karoo Wildsvleis, wat Annatjie Reynolds saam met Lynne Minnaar en Albé Neethling geskryf het. SMS voor 14 Junie om 17:00 die woord VLEIS, jou antwoord, naam en adres na 34922. Elke SMS kos R1,50. Die borg is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse aan die wenners binne ’n redelike tyd.

VRAAG Wat is die naam van Suid-Afrika se Karoo-kos en wildsvleiskoningin?