Koekedoor, ’n bakkompetisie wat volg op die sukses van Kokkedoor, word van 12 Maart vir dertien weke op Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai. [caption id="attachment_85506" align="aligncenter" width="600"]Dié drie beoordelaars Tiaan Langenegger, Elizabeth Cloete en Mari-Louis Guy. Dié drie beoordelaars Tiaan Langenegger, Elizabeth Cloete en Mari-Louis Guy.[/caption] Mari-Louis Guy

Nie net het hierdie ma van drie al oor die wêreld heen gebak nie, sy is ook baie bekend as kosstilis, koek-ontwerper, skrywer en blogger. Sy en haar broer, Callie, is ook alombekend vir hul suksesvolle resepteboeke, soos Koeke ter viering van liefde en lewe (2009), Markdag (2012) en Onthaal op groot skaal (2013).

1. Watter eienskappe moet ’n Koekedoor-deelnemer hê?

Hulle moet vernuwend dink en moet weet waar die tradisies lê. Hulle moet dus alles van ’n melktert tot die Concorde-koek kan baasraak.

2. Watter raad het jy vir die deelnemers?

Lees, lees, lees en kyk wat in die mode is. Kyk ook wat die kosbloggers daarbuite doen.

3.  Wat is jou gunstelingkoek om aan te knibbel?

Ek hou van ’n lekker vars klapperkoek. Ek het lank op eilande gewoon; ek hou van my rum en klapper.

4.  Waarna spesifiek kyk jy wanneer jy die deelnemers se koeke beoordeel?

Ek is in die kombuis; dus kyk ek na die tegniek. Ek gee vir almal ’n basiese resep en dan moet hulle dit uitvoer. Ons is verbaas, want die botterbroodjies met dieselfde eenvoudige resep kom elke keer anders uit.

5.  Wat is jou motto in die kombuis? Probeer alles en dink vernuwend, want ek maak amper nooit dieselfde ding twee keer nie. Klik hier om Mari-Louis se artikels op huisgenoot.com te lees. Elizabeth Cloete

Dié dinamiese vrou het haar B.Sc.-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi en haar loopbaan as biologie-onderwyser begin. Eers nadat sy en haar man hul familieboerdery in Kraaifontein oorgeneem het, het Elizabeth met VLV-kursusse begin en vandag is sy een van die vier beoordelaars op die VLVK se beoordelaarspaneel.

1.  Watter eienskappe moet ’n Koekedoor-deelnemer hê?

Jy moet die resepte ken. Die resep wat jy gaan gebruik, moet jy so goed ken dat jy hom kan verander en jou eie kan maak.

2.  Watter raad het jy vir die deelnemers?

Lees jou resep goed deur. Tweedens, maak seker dat jy al jou bestanddele het voor jy begin aanmaak om seker te maak alles verloop goed af.

3.  Wat is jou gunstelingkoek om aan te knibbel?

Sjokoladekoek omdat dit my gesin se gunstelingkoek is. ’n Ma moet mos maar maak wat die gesin wil hê! 4.  Waarna spesifiek kyk jy wanneer jy die deelnemers se koeke beoordeel? Eerstens kyk ek dat die lae van die koek ewe dik is. Tweedens dat hulle ’n lekker vulsel inhet, en dan ook die tekstuur van die koek. Dit moet sag, fyn en lekker op die tong wees. Tiaan Langenegger

Tiaan is ’n bekende gesig op die kassie, want die meeste kykers ken hom as een van die wenners van Kokkedoor; hy en sy Kokkedoor-maat, Mynhardt, is ook die aanbieders van die gewilde program Makietie op kykNET. Dié meesterkok het al op 16 begin kook en het sy patisserie-sjefdiploma cum laude aan City & Guilds verower.

1. Hoe voel dit om vanjaar ’n beoordelaar pleks van ’n deelnemer te wees?

Dis beslis ’n heel ander storie. Dis ongelooflik interessant, want dis heeltemal anders as wat ek gedink het dit gaan wees. Maar dis baie lekker en opwindend. Ek hou daarvan!

2. Watter eienskappe moet ’n Koekedoor-deelnemer hê?

Iemand wat definitief weet wat hulle doen en gemaklik is in die kombuis. En wat smaakprofiele ken en basiese tegnieke kan bemeester.

3. Watter raad het jy vir die deelnemers?

Bak uit jou hart uit. Lei jouself en bak soos wat jy by die huis sal bak.

4. Wat is jou gunsteling-koek?

Beslis ’n swartwoudkoek met lekker klomp kersies op!