Volgens Robyn Farrell, die uitvoerende hoof van 1st for Women Insurance, dink die meeste motor-eienaars nie eens twee keer daaroor om hul persoonlike en waardevolle items in hulle voertuie te bêre nie.

Die SAPD se statistieke toon diefstal van besittings binne motors het tot 7% gestyg uit ’n totaal van 130 475 voorvalle. Dit beteken daar word daagliks by ongeveer 358 voertuie ingebreek.

“Om waardevolle items in jou motor te los waar enigeen dit kan sien, is ’n ope uitnodiging vir misdadigers,” sê Robyn.

Volg dié maklike wenke van 1st for Women Insurance om seker te maak daar word nie by jou motor ingebreek nie:

  1. Moenie waardevolle items op jou motor se sitplekke los nie. Maak altyd seker jou besittings is veilig toegesluit in die kattebak wanneer jy bestuur of in ’n parkeerterrein geparkeer het.
  2. Sorg dat jy altyd jou voertuig op ’n veilige plek parkeer.
  3. Onthou om altyd jou motor te sluit, selfs wanneer jy bestuur.
  4. Sorg dat jy saans al jou waardevolle besittings uit die motor haal.
  5. As jy jou motor met ’n afstandbeheertoestel sluit, maak liefs seker jou deure is wel gesluit voor jy wegstap sodat diewe nie die sein van jou motor se afstandbeheerder blokkeer nie.

- Janine Nel