Media24-Boeke het onlangs weer ’n hele handvol van hierdie slapbandboeke uitgegee. In die Satyn-reeks, waar die leser tot ágter die slaapkamerdeur geneem word (nudge-nudge, wink-wink), het twee nuwe boeke verskyn: Een Nag in Vegas en Sluimerliefde.

AS JY gedink het brandewyn het nie brieke nie, moet jy sien wat ’n glasie duur sjampanje in Las Vegas kan doen! In Elize Mitchell se Een Nag in Vegas (R70 by kalahari.com) ontmoet twee Suid-Afrikaners, Telani Malan en Simon van Breda, mekaar toevallig in die dobbelstad. Telani, ’n arbeidsterapeut, is platsak en op moedverloor se vlakte nadat haar verloofde haar kort voor die troue in die steek gelaat en sy boonop ’n bloutjie by ’n potensiële werkgewer in Amerika geloop het. Simon, ’n wewenaar, maak haar die aanbod: In ruil vir ’n koel miljoen rand moet Telani met hom trou in ’n Vegas-kapelletjie sodat sy tuis na sy seun, Jaco, kan omsien. Telani stem in, maar op voorwaarde dat hy sy hande tuis hou. In Suid-Afrika blyk dit dat Simon die erfgenaam van ’n reuse sakeryk is, wat met ’n hele boel probleme gepaard gaan. Een van dié probleempies is dat sy oorlede vrou se suster steeds in die herehuis op hul landgoed woon en ’n ogie op hom het. En dan is Telani se eks ook nie heeltemal uit die prentjie nie.

Gaan die liefde seëvier? Antwoord: Ja! Maar danksy Telani se geen-seks-voorwaarde gaan jy tot op bl. 220 moet wag vir die stomende tonele. Lekker ligte leesvermaak.

In Susan Pienaar se Sluimerliefde (R70 by kalahari.com) is Henk en Karli twee voormalige huismaats wat stry gekry het. Maar omdat hul naweek-wegbreek na Golden Gate reeds bespreek en betaal is, besluit hulle om voort te gaan met die naweek en elkeen sy nuwe liefde saam te neem. Karli neem vir Maritz, maar kry die blouaapstuipe oor Henk sy openlike vryery met sy nuwe meisie, Anchen. Dis die einde van ’n goeie vriendskap, of is dit . . .? Want Karli kan Henk nie uit haar gedagtes hou nie. En as jy die liefdestonele lees, sal jy verstaan hoekom.

Vir dié wat iets minder gewaag wil lees, is daar Om Joune te Wees deur Schalkie van Wyk (R70 by kalahari.com), wat deel uitmaak van NB se Melodie-reeks. Kayla gaan ná haar studies terug na haar tante se losieshuis, waar sy kennis maak met die bure se kuiergas: ’n windmaker kêrel met ’n motorfiets. Briand laat Kayla se hart vinniger klop, maar dié liefde sal nie onder haar tante se dak geduld word nie.

Is jy ook ’n boekvraat? Lees dan ons ander boekbesprekings:

Leer by die beste. Leer by Jack Reacher

Wat is ’n huis sonder ’n hond?

Op reis deur Florence saam met Inferno

Bloggers en Facebookers sal van dié spanningsverhaal hou