Een van Suid-Afrika se gunsteling-sepiesterre, Clint Brink, sluit môre-aand by die span van Binnelanders aan.

Die akteur, wat voorheen in Scandal gespeel het, gaan die rol van dr. Steven Abrahams – ’n ware rokjagter – vertolk. “Dis lekker om op Binnelanders te wees. Ek is mal oor my karakter,” het hy aan Huisgenoot gesê.

Volgens TVSA gaan Clint en Kim Cloete ’n vervreemde paartjie speel met probleme omdat Clint se karakter nie sy hande van ander vroue kan afhou nie.

Clint het die afgelope tyd die Afrikaanse vermaakbedryf met mening getref en is ook op SABC3 te sien. “Ek is ook in die TV-reeks Roer Jou Voete waarin ek die dwelmbaas, Die Skim, speel. Dit word Woensdae om 20:00 uitgesaai.”

En behalwe vir sy sepiewerk, werk hy ook aan ’n musiekloopbaan en sy fiksheid. “Nadat ek verlede jaar veelvuldige beenbreuke opgedoen het in my linkerenkel en regterknie wat voorheen geopereer is, is ek baie in my skik met die vordering wat ek in minder as ’n jaar gemaak het nadat ek vir bykans 20 weke nie kon oefen nie,” skryf hy op Instagram.

Kyk môre-aand 19:30 op kykNET na Binnelanders om die groot konsternasie wat Clint gaan veroorsaak te sien.