Die nuwe middelvermoë-supermoto-motorfiets met die Oostenrykse handelsmerk sal bemark word met Metzeler Sportec M7 RR-supersportbande (met groottes 120/70 ZR17 voor en 160/60 ZR17 agter) as oorspronklike toerusting vir die nuwe 690 Duke. [post-slider] Die RR, wat staan vir “Road Racing”, is die mees sportiewe band in die Metzeler-produkreeks. Die ontwerp het sy oorsprong te danke aan padwedrenkompetisies waar jy al die uiterste toestande raakloop waarmee elke motorfietsryer daagliks te doen kan kry, en daarom het Metzeler hulle gekies vir hul toetse en ontwikkeling.

"Die loopvlakpatroon van die groewe is ontwerp om vastrapvermoë op droë teer te verseker"

Die paaie waarop motorfietsryers ry, is nie altyd perfek nie en hul oppervlakke nie gelyk en eenvormig soos op ’n baan nie; dikwels is daar versteekte slaggate, veranderende oppervlakke, gate en ongelykhede, sowel as nat, glibberige en soms selfs vuil kolle.

Om hierdie rede het Metzeler besluit om die Sportec M7 RR-band te ontwikkel. Daarvoor is data gebruik wat oor die jare ingesamel is tydens padwedrenne wat op ’n uiters hoë vlak al die toestande weergee wat ’n ryer daagliks op die pad kan teëkom.

Die loopvlakpatroon van die groewe is ontwerp om vastrapvermoë op droë teer te verseker en terselfdertyd dreinering van water en uitstekende stabiliteit om draaie te bied. Die oorlangse groewe word onderbreek deur elemente van die samestelling wat die stabiliteit van die loopvlak verbeter, eweredige afloop lewer en klouvermoë tydens versnelling verbeter. Hierdie elemente help ook die groewe oophou terwyl die band in kontak is met die pad om so water te kanaliseer.

In die laterale groewe verminder die diepte geleidelik na die skouer-area om so die kompaktheid en sywaartse kragte deur draaie met maksimum oorleunhoeke te verhoog in droë toestande; hul breedte, daarenteen, vergroot na die skouer-area om selfs in die kortste draaie te verseker dat water doeltreffend gekanaliseer word.

’n Splinternuwe reeks samestellings met ’n hoë silika-inhoud is vir die reeks ontwikkel wat in hoë temperature sowel as op nat paaie met laer temperature sportiewe werkverrigting bied.

Die voorband is ’n monosamestelling met 100-persent-silika. Die agterband het ’n dubbele samestelling: die skouer bevat 100-persent-silika wat chemiese klouvermoë op droë sowel as nat oppervlakke bied en word ondersteun deur ’n harder samestelling in die onderlaag wat die hoogste vlakke van stabiliteit en draaivermoë verseker. Dieselfde samestelling is ook in die middel van die loopvlak geplaas om ’n langer lewensduur te bied.

’n Toepaslike struktuur is ontwerp om die werking van die profiele te ondersteun, die samestelling toe te laat om klouvermoë op die oppervlak te hê en die groewe oop te hou in die grondvlak-area. Die straallaagkarkas is saamgestel uit ’n spesiale variasie van rayon; hierdie struktuur is aansienlik stewiger en behou sy vorm beter in hoëspanningstoestande en tydens vervorming deur ’n vrag.

 Bron: quickpic.co.za