Toyota het ’n nuwe byderwetse mededinger in die intreevlaksegment om met gewilde motortjies soos die VW Up!, Hyundai Grand i10 en Kia Picanto mee te ding. Die nuwe Aygo is ’n bekostigbare stadsmotor met ’n stylvolle ontwerp, goeie brandstofverbruik ’n string standaard-eienskappe[post-slider]

Een van die Aygo se unieke eienskappe is ’n tweekleurige bakkleurskakering. Twee unieke tweekleur-modelle is in die reeks beskikbaar – die X-play Black en X-play Silver. Soos die naam voorstel het die X-play Black ’n elegante swart dak wat by ’n lewendige kersierooi- of yswit-bakkleur sal pas.

Die X-play Silver bied ’n monochromatiese kontras met ’n asgrys-bak wat deur die silwer dak beklemtoon word.

Die reeks begin by ’n enkelkeurige model gevolg deur die X-play-modelle wat ook bykomende toerusting het.

Aandrywing is deur ’n 1,0-liter-driesilinderenjin wat 51 kW en 95 Nm ontwikkel met ’n gemiddelde brandstofverbruik van 4,4 L/100km

Die nuweling bied ’n magdom toerusting. Die gebruik van ’n raakskerm-klankstelsel is ’n eerste in hierdie segment en dit pronk ook met Bluetooth-werking, afstand beheerde sentrale sluiting, elektriese vensters voor, elektries beheerde deurspieëls en lugversorging.

Die X-play-modelle kry ook leerafwerking vir die ratkierie en stuurwiel

’n Volledige veiligheidpakket behels voor- en kantlugsakke en sluitwerende remme (ABS) met noodkraghulp.

’n Fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km is by die koopprys ingesluit, terwyl ’n diensplan bykomend bestel kan word.

Pryse:

  • Aygo 1,0 – R 138 900
  • Aygo X-play Black 1,0 – R139 900
  • Aygo X-play Silver 1,0 – R 139 900