Veral vir aanhangers van MJ is dit ’n emosionele wipwarit. Ons word aan sy skielike dood herinner, hy oorrompel ons opnuut met sy ontsaglike talent en ons kyk hoe hy vir ’n konsert repeteer wat nooit sou plaasvind nie.

Die dokkie is ’n collage van beeldmateriaal van sy repetisies in Los Angeles vir wat waarskynlik sy laaste konsertreeks sou gewees het. Dis in die weke voor sy dood op 25 Junie 2009 geskiet.

Jy kry iets te sien van die saggeaarde, bedagsame en liefdevolle siel wat hy was, maar ook van ’n man wat hom en die mense om hom gedryf het en met elke vertoning met niks minder as volmaaktheid tevrede was nie. Dit is ook fassinerend om te sien hoeveel werk die span in die konsert moes steek en hoe betrokke Michael by alles was – van die grootste tot die kleinste besluit.

Jy sal dalk trane wegpink en beslis kop knik en voete tik terwyl MJ klassieke treffers uit sy hele loopbaan sing. Bonus: dokkie.

Wat ons dink: 4/5 Genre: Dokumenter Regie: Kenny Ortega