Huisgenoot-Skouspel werk vanjaar weer saam met ’n span uitmuntende vennote om dit die spoggerigste Afrikaanse musiekvertoning in die land te maak.

Virseker, Suid-Afrika se eerste korttermyn-versekeringsproduk wat uitsluitend op die Afrikaanssprekende gemeenskap gemik is, word vanjaar deel van die span getroue borge wat Huisgenoot-Skouspel ondersteun.

“Ons vennootskap met Huisgenoot is ’n natuurlike uitvloeisel daarvan dat ons albei daartoe verbind is om aan Afrikaanssprekendes gehalteprodukte in hul hartstaal te bied. Ons sien uit na die verstewiging van dié wedersyds voordelige vennootskap,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Skouspel is een van die grootste geleenthede op die Suid-Afrikaanse vermaakkalender. Dis ‘n perfekte pasmaat vir Virseker, wat as ‘n vertoonvenster vir die Afrikaanssprekende gemeenskap se kultuur ontwikkel is.”

Die borgskap sluit volgende jaar se ewe gewilde SkouspelPlus, die jaarlike Huisgenoot-Tempo-toekennings, die Huisgenoot-Tempo-liedjieskryfkompetisie en die Skouspel-vrouedag in.

Huisgenoot-Skouspel, wat van 7-9 en 14-16 Oktober by Sun City gehou word, se ander groot borge is Shoprite en Checkers, Sun City, Clover, Computicket en kykNET.

Dit is vanjaar al die twaalfde jaar dat die eindronde van Checkers se Championship Boerewors-kompetisie by Skouspel aangebied word. Duisende mense dinge elke jaar om hierdie titel mee.

“Skouspel is een van Huisgenoot se hoogtepunte, sonder ons borge kan ons nie eers daarvan droom nie. Dis ‘n wonderlike platform waar die HG-span, lesers en borge mekaar kan ontmoet,” sê Izelle Venter, hoofredakteur van Huisgenoot, YOU en DRUM.

Dertig van Suid-Afrika se topkunstenaars is vanjaar op die Skouspel-verhoog te sien. Die produksie spog met topgehalte-choreografie van net die beste Afrikaanse musiek en lok jaarliks duisende mense.