Vandeesweek se grootste fliek keer terug na ou monsterflieks soos King Kong en Godzilla. Pacific Rim (7-9OTG) is ’n wetenskapsfiksie-aksiefliek oor reuse seemonsters wat die Aarde deur ’n transdimensionale skeur op die bodem van die Stille Oseaan inval. Hoewel wetenskaplikes ter verdediging enorme robotte ontwerp het wat gelyktydig deur twee mense beheer word, lyk dit na ’n verlore stryd. In ’n desperate laaste poging om die stroom te keer kry ’n oor die muur vlieënier (Charlie Hunnam van Sons of Anarchy) en ’n groentjie (Rinko Kikuchi van Babel) die taak om ’n geheime missie met ’n oënskynlik nuttelose robot uit te voer.

Die fliek is oorwegend positief ontvang. Op die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes het dit ’n gemiddeld van 72 persent gekry en is die fliek so opgesom: “Dit bied dalk meer styl as substans, maar Pacific Rim is ’n soliede, moderne kreatuurfliek wat steun op fantastiese beelde en ’n onweerstaanbare gevoel van pret.” Matthew Leyland van die tydskrif Total Film het dit vier sterre gegee en dit beskryf as “ ’n warmer Transformers. Dis ’n ander resep vir ’n FX-belaaide lokettreffer; een wat hom verdiep in toegeneentheid en opregtheid en hom nie wend tot kras stereotipes, slapstick of seksgrappies nie.”

Gruwelaanhangers kan uitsien na Dark Skies (16G). Dié riller oor die bonatuurlike handel oor ’n voorstedelike gesin wat gebuk gaan onder ál meer bisarre verskynsels, soos swerms voëls wat teen hul huis vasvlieg. Die pa (Josh Hamilton) en ma (Keri Russell van Felicity) kan ook by tye nie onthou wat gebeur het nie. Toe hulle besef ’n dodelike mag teiken hul gesin, besluit hulle om sake in hul eie hande te neem en die raaisel self op te los.

Die fliek het gemengde reaksie ontlok. Die resensiewebtuiste Metacritic het dit ’n gemiddeld van 51 persent gegee en die tydskrifte Empire en Total Film het dit albei drie sterre gegee. Kim Newman van Empire het dit as “absoluut generies” beskryf en sê “dis senutergend terwyl jy kyk, maar ’n week of wat later sal jy dit nie onthou nie”.

In Killing Them Softly (16TG) werk Brad Pitt weer saam met Andrew Dominik, wat die regisseur was van die bekroonde The Assassination of Jesse James by the Coward Robert Ford (2007). Pitt speel Jackie Cogan, wat gehuur word om drie kleinskaalse misdadigers te vang wat gereken het dis ’n slim idee om ’n bendebeheerde kaartspel te beroof. Dié rooftog het die plaaslike misdaadekonomie laat vou, so Cogan soek bloed.

Die fliek het meesal positiewe resensies ontvang. Dit het 75 persent op Rotten Tomatoes gekry en is daar beskryf as ’n “komiese donker riller wat ook dien as ’n waarskuwing teen kapitalisme; die boodskap word so duidelik soos ’n voorhamerhou tuisgebring”.

Damon Wise van Empire was ’n bietjie minder beïndruk. Hy het die fliek drie sterre gegee en gesê: “Killing Them Softly weet nie heeltemal waaroor dit gaan nie. Dis ’n goeie, doeltreffende misdaadriller. Dit word gekelder deur lomp sosiale kommentaar, maar opgehef deur uitstekende toneelspel, insluitend Pitt se beste die afgelope tyd.”

Babalas (10TSD) is ’n Afrikaanse komedie waarin die voormalige model en Roer!-aanbieder, Tammy-Anne Fortuin, die rol van die funksiekoördineerder Mia Moolman speel. Mia werk vir ’n maatskappy wat gehuur word om ’n geselligheid te reël ter viering van die suksesvolste advertensieveldtogte in Suid-Afrika. Dan kry sy die idee om die ouens van die ou Castrol-advertensies, Boet (Ian Roberts) en Swaer (Norman Anstey), te betrek. Maar eers moet sy afsit Kalahari toe om hulle op te spoor.

Die Burger het gesê: “Dié een-ster fliek lyk heel belowend op skrif, maar daar skort baie met die uitvoering daarvan.”

- Sandra Visser