Die nuwe Celerio, wat volgens Suzuki die beste binneruim in sy klas het, is nou hier te koop en vervang die Alto.

[post-slider]

Die Celerio is net 3,6 m lank en 1,6 m wyd en dit beteken dat die klein Suzuki maklik deur stadsverkeer rits, en in selfs die kleinste parkeerruimte kan inglip. Die bagasiebak van 235 L is ook glo die ruimste in sy klas en met die agtersitplek heeltemal platgevou, is daar tot 1 034 L pakplek beskikbaar.

Daar is drie modelle in die reeks wat almal deur dieselfde driesilinderenjin van 1,0 L aangedryf, maar daar is twee ratkaskeuses, asook twee spesifikasievlakke, GA en GL.

Die Celerio se maksimum kraglewering is 50 kW teen 6 000 r.p.m., met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 90 Nm teen ’n taamlik lae 3 500 r.p.m.

Van besonderse belang is die Celerio se suinige brandstofverbruik. Na gelang van die spesifieke model, verbruik die Suzuki net 4,6 L/100 km in die gekombineerde siklus - wat beteken dat dit ’n reiksafstand van meer as 750 km met ’n enkele tenk brandstof van 35 L kan hê, volgens Suzuki.

Ten opsigte van veiligheid kom al die Celerio-modelle met ABS-sluitweerremme en dubbele lugsakke voor.

Die bekostigbare GA-model is goed toegerus, met ’n lys standaardkenmerke, onder meer lugreëling.

Die GL is nog vollediger toegerus, met onder meer ’n klankstelsel met Bluetooth, wat bestaan uit ’n CD-instemmer met vier luidsprekers en ingeboude Bluetooth-koppeling vir selfone.

Die Celerio word deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km gedek. Daarbenewens sluit die prys van die GL-weergawes ’n diensplan van twee jaar/30 000 km in.

Pryse:

1,0i GA MT (geen diensplan) R109 900

1,0i GA MT Alloy (geen diensplan) R112 900

1,0i GL MT R124 900

1,0i GL AT R135 900