_MG_3131

Die beoordelaars het Tish Steyn van Jeffreysbaai huis toe gestuur.

Die derde episode het oor tuisgebak vir koekblikke gegaan.

Hoekom het jy vir Koekedoor ingeskryf?

Ek het ingeskryf op aandrang van my vriende en kinders. Ek sien nogal kans vir ’n uitdaging en my man was toe al so ’n jaar oorlede; ’n mens is dan maar alleen. Ek moet sê, ek bak vir die lekker en is nogal bekend vir my koeke.

Wat het jy geleer tydens jou deelname?

Ek het baie geleer: oor mense, bakmetodes, dat jy jou instink moet vertrou en jou opdrag baie goed moet lees. Dit was eintlik ’n goeie leerervaring. Die eerste uitdaging – Johnny se tarte Tatin met roomys – was vir my op die ou end ’n heerlike uitdaging en leerproses. Ek het veral geleer dat daardie spreekwoord “what you don’t use, you loose” baie waar is.

Het Koekedoor jou lewe verander en wat hou die toekoms vir jou in?

Nee, ek dink nie Koekedoor het my lewe verander nie; ek het te gou uitgeval. Al wat anders is, is dat die mense my nou op straat omhels asof ek hul grootste pêl is en hulle verseker my van hul ondersteuning, en dan mag ek mos nie sê nie! Dierbaar van die mense . . . Hulle is so ondersteunend, maar ek was op stuk van sake hul predikantsvrou; dis seker daarom.

Hoe voel jy oor gisteraand se aflewering waarin jy uitgestem is? Wat het skeefgeloop?

Ek het gedink dit het goed gegaan met die eerste onthoukoekies – Monte Carlo-koekies en pekanneutstafies. In die tweede uitdaging – fyngebak – het die politiek my laat struikel. So tussen die hertzoggies, jansmutsies en die tweegevreetjies het ek gestruikel. Ek het nie gelees nie; ook nie mooi geluister wat stafies moes word nie. Dit is maar die beloop van die lewe; nie my dag nie. Nou, die derde uitdaging – pronkgebak: Ek het Eat-Sum-More getrek - eintlik nie moeilik nie!

Ek het so gestres oor die vorige mislukking dat ek toe my ore uitleen plaas daarvan om te doen wat ek wou. ’n Mens moet maar die gevolge dra van verkeerde keuses. Dit is ’n lewensles wat ek al ’n paar maal moes leë. Op die ou end was dit ’n wonderlike ervaring.

Deelnemers om mee rekening te hou?

Die M’e: Mareli en Martjie. Ek weet nie van die manne nie; Gerrit onvoorspelbaar, en Murray doelgerig. Ek dink ons moet maar kyk wat gebeur.

Watter kospersoonlikhede inspireer jou?

Mari-Louis Guy, Herman Lensing, Carmen Niehaus, Reuben Riffel en Karen Dudley.

Gunstelingkoek of -tert en hoekom?

My gunstelingkoek is ’n sjokoladekoek, want daar is so baie variasies. ’n Mens kan toor met ’n sjokoladekoek en min mense hou nie daarvan nie.

Wat verkies jy: soet- of soutgebak?

Ek het ’n suikertand.

Waar kan mense jou kontak?

Ek is op Facebook en Twitter, @Tishsteyn Tish. E-pos tishsteyn@lantic.net,.

Ek moet bely: Ek is nie so aktief op sosiale media nie. Dit voel vir my ek het te veel ander dinge om te doen. Miskien is dit die ouderdom. Jy weet, 70 sê: Kom-kom.