In dié aflewering is dit Werner se beurt om vir Emke Swarts te wys hoe vaardig hy in die kombuis is. Kêrels wat Kook gee

APTYTWEKKER: KUDU-PROEHAPPIES

4 snye brood

12 stukkies gerookte koedoevleis (of biltong)

Olyftapenade

Gras-ui gegeurde roomkaas

Fyngekapte gras-ui vir versiering

Sny 3 ronde stukkies uit elke sny brood met ‘n koekiesnyer.

Diepbraai in olie tot effe hard en mooi bruin.

Smeer met roomkaas en sit stukkie vleis bo-op.

Sit ‘n halwe teelepeltjie olyftapenade op die vleisstukkie en strooi gekapte gras-ui bo-oor vir versiering.

VOORGEREG: BOTTERSKORSIE-RISOTTO

400 g botterskorsie, in blokkies gesny (± 2 cm)

100 g Arborio (Risotto) rys

½  fyngekapte ui

2ml gekapte knoffel

15 ml olyfolie

300 ml groenteaftreksel

100ml witwyn

¼  rooi soetrissie in blokkies gesny

10 ml gekapte vars salie

30g geroosterde pampoensade

1 ronde Feta in blokkies gesny

50 g botter & 100ml room

20 g Parmesaan kaas

Braai ui en knoffel tot ligbruin in olyfolie.

Voeg Risotto rys by en roer vir ‘n paar minute.

Voeg botterskorsie, soetrissie en salie by en roer aftreksel en wyn bietjie-bietjie by.

Rooster pampoensade in ‘n pan.

Wanneer die risotto gaar is, voeg geroosterde pampoensade en feta by.

Net voordat jy dit bedien, roer die botter, parmesaan en room in.  Geur met sout en peper  na smaak.

HOOFGEREG: GEVULDE HOENDERBORSIES MET STER-ANYS-GEGEURDE PATATPUREE

2 hoenderborsies

30 ml crème fraîche

6 repies Swartwoudham of spek

1 gekapte prei

6 takkies tiemie

20 ml witwyn

sout en peper

1 groot patat

½ ster-anys

20 ml room

20 ml botter

Soteer prei in witwyn met tiemie en sout en peper, voeg crème fraîche by en laat in yskas staan tot dik.

Maak ‘n snit in die hoenderborsies om ‘n sakkie te vorm en skep vulsel in.

Vou toe (steek vas met peuselstokkies) en geur borsies met sout en peper. Vou borsies toe in die ham of spek.

Braai in ‘n pan aan beide kante net tot hoendervleis begin wit verkleur en plaas dan in ‘n oondbak.

Bak ongeveer 45 – 60 min by  180° C tot gaar.

Bedien met patat puree en enige groente wat in seisoen is, in my geval wortels, aspersies en “pak choi.”

Patatpuree: Kook patat met ster-anys tot sag. Druk fyn met aartappeldrukker tot glad en vou room en botter in.

Geur na smaak met sout en peper.

NAGEREG: SJOKOLADE FONDANT

120g donker sjokolade

120g botter

120g strooisuiker

3 eiers, 1 eiergeel

120g koekmeel

1ml vanieljegeursel

40 g wit sjokolade

Smelt botter en sjokolade oor kookwater tot heeltemal gesmelt.

In ‘n aparte bak klop die eiers, vanieljegeursel en suiker saam.

Sif die meel en vou in eiermengsel. Voeg sjokolademengsel stadig by, terwyl jy dit roer.

Laat staan vir 30 minute om af te koel.

Giet die mengsel in klein individuele oondvaste vormpies,  wat vooraf met “spray en cook” gespuit is.

Plaas ‘n klein stukkie wit sjokolade in die middel van elk.

Bak in ‘n voorverhitte oond op 200° C vir 10 tot 12 minute tot bokant ‘n effense kors het, maar nog sag in die middel.

Laat staan vir twee minute en keer uit op bord. Bedien met room en vars bessies.

KLIK HIER vir al die respte van Groep 1, soos verskaf deur kykNET.

Kêrels wat kook word Donderdagaande om 20h00 op kykNET uitgesaai.

Volg Huisgenoot op Twitter.