Dit het ’n vars voorkoms en verbeterde spesifikasie; dit is die verstandige keuse as jy op soek is na ’n betroubare gesinsedan.

Sedert die Almera middel verlede jaar in Suid-Afrika bekendgestel is, het Nissan 3 500 eenhede verkoop, wat bewys dit word ’n groot gunsteling in sy hoogs mededingende segment waarin hy meeding met die Volkswagen Polo Vivo-sedan, GWM C30 en Hyundai Accent.

Buitelangs het die Almera nuwe hoofligte en ’n nuwe, deftiger sierrooster van chroom, asook ’n aggressiewer voorbuffer vir ’n bietjie meer houding.

Dit het ook nuwe 15-duim-allooiwiele, en agter het dit ’n herontwerpte agterbuffer. Boonop het die Almera ook nou parkeersensors agter.

Binnelangs is daar nuwe sitplekbekleedsel met stikwerk in ’n kontrasterende kleur, asook ’n bygewerkte instrumentpaneel met ’n nuwe klankstelsel en aansienliker kontroles vir die lugversorging.

almera-8_1800x1800

’n Nuwe stuurwiel in albei modelle gee dit ’n luukse gevoel. Dit het ook nou telefoonkontroles vir Bluetooth, wat nou standaard is, en satelliet-kontroles vir die nuwe klankstelsel, wat nou ook USB het.

Die bygewerkte reeks het twee modelle: die 1,5 Acenta met ’n vyfganghandratkas en die 1,5 Acenta met ’n outomatiese viergangratkas – wat albei ’n petrolenjin het wat 73 kW en 134 Nm. lewer.

Veiligheidskenmerke vir albei sluit in ABS-remme met EBD en BAS, deure wat outomaties sluit, driepuntsitplekgordels vir al vyf sitplekke, twee lugsakke voor en Isofix-ankers vir kindersitplekke.

Nissan beweer die Almera se beenruimte agter is die beste in sy klas. Daar is ook ’n bagasieruimte van ’n tamaai 490 L.

Die Almera het ’n standaarddiensplan van drie jaar of 60 000 km en ’n standaardwaarborg van drie jaar of 100 000 km. Diensintervalle is 15 000 km.

Pryse:

Almera 1,5 Acenta handrat - R177 600

Almera 1,5 Acenta outomaties - R189 100

almera-7_1800x1800