Toyota sê hul herroeping van 5 miljoen voertuie het 35 modelle wêreldwyd geraak wat tussen 2003 en 2007 vervaardig is. Nissan het 1,56 miljoen herroep, ook weens foutiewe lugsakke wat die beleërde verskaffer Takata gemaak het.

Toyota en Nissan sê daar was geen gevalle van sterfgevalle of beserings wat met hul jongste herroeping verbind word nie, en ’n Nissan-woordvoerder sê die ontploffingsrisiko was een van ’n aantal probleme met die foutiewe lugsakke.

Dit raak ook glo sekere vorige modelle van die Nissan Almera. Toyota Suid-Afrika het gesê hulle gaan die lugsakpompe vervang in Corolla-, RunX- en Yaris-modelle wat tussen 2002 en 2007 en Rav4, Hilux en Fortuners wat tussen Julie 2003 en Desember 2005 vervaardig is.

Toyota sê 224 006 Suid-Afrikaanse voertuie word daardeur geraak en dat die herroeping binnekort sal begin sodra al die vereiste komponente by plaaslike handelaars beskikbaar is, waarna eienaars wat hierdeur geraak word, in kennis gestel sal word. Die gratis prosedure sal na verwagting van een tot twee uur duur.

As jy dink jou voertuig word hierdeur geraak, skryf die VIN neer en meld aan by Toyota se webtuiste (vanaf 15 Mei) of bel die oproepsentrum by 0800-139-111.

Nissan Suid-Afrika het bevestig dat vorige modelle Almeras geraak kan word en dat hulle tans met handelaars werk om dadelik die probleem op te los.

Nissan het ook gesê eienaars sal in Junie in kennis gestel word en dat die veldtog die eienaars niks sal kos nie.

Bronne: Wheels24, Motoring.co.za