Onthou jy die gewilde Nissan Sentra? Wel, dié modelreeks is ná agt jaar weer plaaslik te koop.

Die nuwe Sentra gaan meeding in die C-segment teen sedans soos die Hyundai Elantra, Chevrolet Cruze, Kia Cerato en Renault Fluence.

Nissan het ook onlangs die Almera, wat onder die Sentra geposisioneer is, bekendgestel en wat weer goedkoper sedans soos die Hyundai Accent, Kia Rio en VW Polo die stryd aansê.

Die jongste geslag Sentra is aansienlik groter en lyk sommer baie stylvol met ontwerpkenmerke soos ’n chroom-sierrooster, hoofligte met LED-dagryligte en 16-duim allooiwiele.

Binnelangs is daar baie ruimte asook ’n tamaai bagasieruim van 510 L.

Standaardkenmerke sluit’n sentralesluitstelsel, veelfunksie-stuurwiel, ’n klankstelsel met onder meer ’n USB-konneksie/CD/MP3-speler, lugverkoeling, elektriese vensters en Bluetooth in.

Onder die Sentra se veiligheidskenmerke tel ses lugsakke, ABS-remme en Isofix-kindersitplek-ankers.

Slegs een enjinopsie is beskikbaar, maar kopers kan kies tussen ’n outomatiese of handratmodel. Die 1,6 L-petrolenjin lewer 85 kW se krag en wringkrag is 154 Nm.

Die Sentra het ’n drie-jaar-/90 000 km-diensplan en ’n waarborg van drie jaar/100 000 km.

Pryse:

Nissan Sentra Acenta MT R230 900

Nissan Sentra Acenta CVT R253 600

- Wilmer Müller

Nissan Sentra Nissan Sentra