JY’S op ’n eiland vasgekeer. Aandete is ’n handjie vol rys en daar is geen toiletgeriewe nie. Die son skroei en die rooimiere byt. In die middae is daar donderstorms – wat beteken jy slaap in jou nat klere. En jy is tussen vreemdelinge met, um, uiteenlopende persoonlikhede . . .

Welkom op die Survivor South Africa: Champions -eiland.

Vier reekse van dié gewilde M-Net-werklikheidsreeks, waar 20 dapper siele ’n maand lank teen mekaar meeding om ’n miljoen rand, is al verby. En nou, net voor uitsending van die vyfde reeks op 19 Januarie begin, is dit my beurt om saam met 11 ander joernaliste te probeer oorleef.

Glo my, dis net so taai soos dit op die kassie lyk.

[caption id="attachment_63333" align="aligncenter" width="400"]Loren Pienaar Huisgenoot-joernalis Loren Pienaar op die Survivor-eiland[/caption]

Voor ons na ons onbekende bestemming vertrek, kry ons inspuitings teen allerlei siektes. Ons pak malaria- en seesiekpille in.

Op die O.R. Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg ontmoet ek die ander deelnemers. Onder hulle is die akteur en Groot FM-omroeper, Hykie Berg (35), wat Surivor South Africa: Maledives in 2011 gewen het, en die Vuma FM-aanbieder Vanessa Marawa (34), wenner van Survivor South Africa: Panama in 2006. Hulle gaan die twee stamkapteins wees.

Ons vlieg met Singapore Airlines na Singapoer, waar ons oornag. Die volgende oggend vroeg vertrek ons per bus na Maleisië. Hier klim ons op ’n boot en vaar die Suid-Chinese See in.

My maak knoop toe ek die eilandjie gewaar – ’n skitterwit strand omsoom deur ’n helderblou see. Hoe gaan ek 36 uur lank hou sonder enige geriewe?

Ons mag niks saamneem wat ons ’n voordeel bo ander kan gee nie. “Haal jou haarknippies uit,” beveel iemand. “Dit kan as ’n vishoek gebruik word.”

Ons word afgelaai op ’n vlot in die see. Op die vlot is toue, panne, hout en kokosneute. Jy mag enigiets daarvan gebruik – mits jy strand toe swem daarmee.

Ek sit met leë hande voet aan wal, waar die aanbieder, Nico Panagio, en ’n kameraspan ons inwag.

Vir die volgende 36 uur hou die kameras ons heeltyd dop. Eers maak dit my selfbewus: Gaan ek vet lyk op televisie; moet ek my woorde tel? Maar kort voor lank vergeet jy van die kameras.

Vanessa en Hykie kies hul stamme. Groen en rooi, ses elk. Ek is in Vanessa se stam, rooi.

In die eerste uitdaging moet jy en ’n opponent 200 m van mekaar op jul mae gaan lê, opspring en hardloop om ’n houtpaaltjie gryp. “Ek sal dit doen,” bied ek aan.

Ek duik na die paaltjie – te laat. Die groen-man was te vinnig.

Teleurgesteld staan ek op en vee die sand af. Toemaar, volgende keer, troos ek myself.

Maar dinge sou nie beter word vir rooi nie.

Op daardie eiland moes ek leer hoe om te verloor. Van kleins af word dit by jou ingedril: Almal is eintlik wenners. Maar dis ’n leuen. As jy laaste kom, is jy ’n verloorder.

Groen wen alles. Hul belonings is ’n pakkie rys, panne, ’n seil, ’n kapmes en vuursteen.

Rooi het niks. Laatmiddag is ek doodhonger en uitgeput. Moeg vir warm kry, vir seer voete, moeg vir verloor.

En dis toe dat die onderduimsheid begin.

Toe ek en ’n groen-teenstander saam gaan swem, kom fluister ’n kameraman daar is ’n leidraad in die groenes se rys versteek. In die regte reeks mag die bemanning glad nie met die deelnemers praat nie. Die leidraad verklap waar om ’n immuniteitsbeeldjie te vind wat jou in die volgende ronde teen uitskakeling beskerm.

Die twee van ons krap in die rys – en die hel breek los. Daar is aantygings en beledigings, dreigemente en trane.

En ek leer nog ’n les: As jou oorlewingsdrang oorneem, is vriendskap en lojaliteit vergete.

Die groen span deel darem ’n paar happies rys met ons.

Daardie aand slaap ek sleg. Ek is honger, nat en die sand is hard. Ek kry laatnag ’n nood, maar knyp, want ek wil my plek tussen die warm lywe behou.

Oggend. Groen wen weer. Hul prys is ’n klompie appels wat hulle genadiglik met ons deel.

Die groenes bly wen en dié aand, by die gevreesde stamberaad, is die senuwees klaar. Een rooie moet afgestem word.

So ampertjies is dit ek weens daai eerste verloor . . . Twee stemme teen my, vier teen ’n spanmaat. Maar ’n uitdaging verloor was glo nie so erg soos lyf wegsteek nie en die spanmaat se vlammetjie word geblus.

Wat dink ek toe ons 36 uur verby is?

Nie eens vir ’n miljoen rand neem ek regtig deel nie. Om te verloor is nie vir sissies nie.

[post-slider]

  • Survivor South Africa: Champions, met die oud-Springbok Corné Krige (38) en die voormalige Bafana Bafana-sokkerspeler Mark Fish (39) as stamkapteins, begin op 19 Januarie op M-Net om 17:30.
  •  Die mediagroep kon Singapore en die Survivor-eiland besoek danksy Singapore Airlines. Besoek www.singaporeair.com

- Loren Pienaar