Kollega Bernice het die pas-afgelope Moderne Muskadel Makietie so geniet, sy moes dit opsluit met ons lesers deel. En wees gerus op die uitkyk vir die heerlike Sangria-resep onderaan!

‘Hop op die bus na Montagu vir ‘n moderne muskadel makietie.’  So het die uitnodiging gelui wat my en ‘n groep kos- en wynskrywers na die Klein-Karoo gelok het om een van ons land se mees ikoniese druifprodukte te vier.

Die busrit na die hartland van muskadel was al klaar ’n ervaring om oor huis toe te skryf (of te SMS), want in die lente is die lang pad deur Worcester, Robertson en Ashton tot by Montagu oortrek van kleurvolle veldblomme.

As ek enige opvattings gehad het dat muskadel ‘n outydse drankie is, wat net as ’n soet sopie na ‘n wintersete bedien word, het dit gou verdwyn, toe ons op die mooi ou plaas Cabrierés verwelkom is met yskoue muskadel Sangria, gemaak met  Karusa Muscat Rosé 2011.

So lekker  en verfrissend is hierdie mooi roospienk drankie met die dobberende lemoenskyfies dat dit verklaar word tot die somer se nommer een lafenis – van deftige aansit-kuiers tot gesellige, loslit braai.

Een na die ander geregte, perfek gepaar met ‘n muskadel uit die Klein-Karoo, het gewys dat muskadel uit sy dop gekruip het en ’n moderne baadjie aantrek.

Die gassjef vir die geleentheid Hetta van Deventer het vertel dat die vir haar ’n openbaring was om die moontlikhede van muskadel te ontdek. “Dis een van die maklikste en veelsydigste wyne om saam met kos in te span,” reken sy.

KLIK HIER om te sien watter heerlike disse perfek met veelsydige muskadel kombineer.

MUSKADEL SANGRIA*

Bedien 12  gaste 

2 Bottels Karusa Muscat Rosé

1 Liter Lemonade

1 Liter soda water

3 lemoene in skyfies gesny, pitte uitgehaal

3 suurlemoene in skyfies gesny, pitte uitgehaal

Meng alles en roer deur.

Bedien yskoud in ‘n mooi glashouer of beker.

*Resep ontwikkel vir die Klein-Karoo Wynroete deur sjef Hetta van Deventer

KLIEK HIER of gaan na www.kleinkaroowines.co.za vir meer inligting oor die Klein-Karoo wynroete of kontak Ellen Marais by info@kleinkaroowines.co.za