Gisteraand ontspan ’n klompie van ons alleenlopers by die swembad van getroude vriende. Dis einde Maart en die lug is effens koud. Ons bring maar nog ’n bietjie tyd buite deur, want eersdaags sal die winter ons wel binnenshuis dwing. Die sterre, kan jy jou verbeel, lyk amper soos in Nieu-Bethesda. Straks beïnvloed die St. Anna en die gemoedelike samesyn ons visie.

“Ek word oor twee maande 40,” haak Hennie af. “Het julle al gedink aan presente?”

Hmmm, en dit ná skimpe die hele aand: “Het julle gesien Breyten het ’n nuwe bundel uit?” En: “Ek sou wat wou gee om Daniël Hugo se vertaling van Rutger Kopland op my rak te hê.” Aangesien die res van ons reeds aan die verkeerde kant van 40 is, voel ons gelei om eers ’n paar mites rondom dié spesifieke ouderdom die nek in te slaan. Watter patologiese leuenaar het gesê: “Life begins at forty?” Pure onsin! Is dit nie hoeka net voor of ná my 40ste dat osteoartritis so effens aan my nek begin vroetel het nie? Het Hanlie nie juis op 40 so ’n ligte beroertetjie beleef nie, en wat van Louis? Is dit so jaar of wat later dat sy rug begin knel het? As jy dan wel wil glo life begins at forty, sal jy ook sien it also begins to show!

Hennie dink ook hy’s onderweg na sy middeljare. Nuus vir jou, ou broer: Die Bybel sê as jy sterk is (wat ons betwyfel, want vrouens leef tog oor die algemeen langer as mans), haal jy 70, en 80 as jy baie sterk is. Dus het jy op 35 reeds jou middeljare bereik en is jy nie nou eers daarheen op pad nie.

Nou kan geskenke ter sprake kom. Drank? Nee, op 30 maak dit jou vrolik, maar op 40 kry jy refluks of dronkverdriet. Rookgoed? Vergeet dit, ons vriend pas nou sy longe op. Iets meer dekadent? Glo nie, dalk begin die libido reeds taan of gaan dit in elk geval binnekort nie meer so punt-in-die-wind gaan nie. Boeke? Nee, Hennie het immers toegang tot Unisa se biblioteek en tot ons boekrakke. Ons begin toe sy been trek. Eintlik Hanlie, die realis. Ons blaas die borrels en sy bars hulle. Met goeie rede, want Hennie bly nog in La-la-land saam met die Teletubbies.

“Wat van ’n geskenkbewys by die Harthospitaal?” wil sy weet. Teen wil en dank begin jou hip-hopklasse op AVBOB se stoep op 40. So sy sal betaal vir daardie prosedure waar hulle ’n balletjie deur jou are stuur. “En as dit te duur is,” skerts ons verder, “vat ons ons eie balletjie saam.” En jy het juis bietjie uitgedy vandat jy die drank en rookgoed laat staan het, so Hennie, jou 40ste is D-dag vir jou! Louis bied aan om te betaal vir ’n algemene ondersoek en ek vir die besoek aan die oogarts. Hennie merk ewe droog op dat hy liewers na ’n uroloog toe wil gaan om seker te maak dat daardie belangrike kliertjie nog sy werk doen.

Die volgende aand besluit ons om op vroliker noot Never let it Go by Cinema Nouveau te gaan kyk. Dit gaan toe oor ’n ander soort skenking, orgaanskenking. Dis briljant en siekerig, en herinner jou net weer aan jou eie sterflikheid. Daarna is nie een van ons meer seker oor die ete by die Spur waarop ons vooraf besluit het nie; is dit waar dat ons maar vrolik moet wees omdat ons more kan sterf, of gaan ons juis more kortknip deur nou te eet, te drink en te vrolik te wees? Laat ons almal maar die vorms invul vir orgaan-skenking op daai dag. Dalk voel ons dan vroliker omdat ’n stukkie van ons eendag in iemand anders gaan voortleef? (Behoed die een wat my swak linkeroog kry!)

Hennie, dit is solank jou verjaardagbriefie vir in geval jy of ons nie meer daar gaan wees om dit te vier nie, maar ons hoop tog dat jy op 80 saam met ons op die ouetehuis se stoep sal sit en met nostalgie sal gesels oor die dae van ons jeug, in die dae van ons jig. Ons hoop ook jy het ’n lieflike, gesonde nuwe lewensjaar en dat jy altyd omring sal wees met sulke positiewe vriende soos ons.

Maar ’n mediese geskenkbewys ná ’n sekere ouderdom is nie so ’n slegte idee nie, of hoe?

SARINA DöNGES