Al was dit tot dusver ’n moeilike pad, is dit tog ’n goed berese een. Van sketse in ’n notaboek tot voetspore op die maan – dit moes alles iewers begin het.

[caption id="attachment_128813" align="alignnone" width="600"]Huisgenoot-intern Daniel De Carvalho blog oor sy "reis" deur die ruimte by die Gateway to Space-uitstalling in Johannesburg. Foto: OJ Koloti Huisgenoot-intern Daniel De Carvalho blog oor sy "reis" deur die ruimte by die Gateway to Space-uitstalling in Johannesburg. Foto: OJ Koloti[/caption]

In die begin was daar die mens en die dors na kennis. Om ’n bietjie meer spesifiek te wees: ’n Duitse ruimtevaarttegnologie-ingenieur Wernher (Magnus Maximilian Freiherr) von Braun en sy wetenskaplike navorsing oor ruimtevaart.

[caption id="attachment_128815" align="alignnone" width="450"]Foto: OJ Koloti Foto: OJ Koloti[/caption]

Met die aanvang van 1924 is straatsmouse, voetgangers op die grys geplaveide sypaadjie en ’n 12-jarige Wernher, wat in Tiergartenstraat in ’n houtwaentjie afgepyl kom, in rep en roer.

Lees nog: Kyk: die magtigste vuurpyl ooit!

Wernher het ses groot vuurwerke aan sy klein houtwaentjie vasgebind en in die strate van Berlyn afgejaag terwyl hy sy aanskouers die skrik op die lyf gejaag en vrugtekarretjies omgegooi het. Hoewel die eksperiment die waentjie vernietig het, was dit net die begin van ’n groot loopbaan in ruimtewetenskap.

Mettertyd het Wernher ’n notaboek gehou waarin hy sketse en berekeninge aangeteken het van brandstof, voorrade en materiale wat nodig is vir ruimtevaart. Verwysings na die Russiese en Sowjet-ruimtewetenskaplike Konstantin Tsiolkofski se werk en teorieë aangaande ruimtewetenskap en ruimtevaart kan ook daarin gevind word.

[caption id="attachment_128822" align="alignnone" width="600"]Foto: OJ Koloti Foto: OJ Koloti[/caption]

Lees nog: Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .

? Replika van die waentjie en die notaboek kan gesien word in die Gateway to Space-uitstalling in Sandton.

In sy kinderjare het Wernher heeltyd oor ruimtevaart gedroom en dit later help moontlik maak, al het sy skeppings beslis nie ’n edele oorsprong gehad nie. In die middel van die Tweede Wêreldoorlog het Wernher en sy span ná baie jare se navorsing, probeerslae en selfs die hulp van gevangenes die V-2-ruimtetuig ontwikkel.

[caption id="attachment_128823" align="alignnone" width="619"]Foto: OJ Koloti Foto: OJ Koloti[/caption]

Dit word beskou as die eerste ruimtevaartuig en die eerste ballistiese missiel wat in die Mittelwerk-fabriek deur gevangenes in die konsentrasiekamp gebou is. Die Nazi’s het dit gebruik om minstens 9 000 mense in Londense en Noord-Europese stede uit te wis.

Sedert Duitsland die oorlog in die 1940’s verloor het, was die Amerikaners en die Sowjet-unie op die spoor van Wernher en sy span ingenieurs. Wernher is amper vermoor oor die V-2 se geheime en hy het besluit om hom ter wille van oorlewing en sy ruimtevaartdrome aan die Amerikaners oor te gee.

Ná baie jare se werk aan die ontwikkeling van ruimtevaarttegnologie, het Wernher en sy span van ruimtewetenskaplikes die Saturn V-ruimtevaartuig ontwikkel en gebou. Gedurende hierdie tydperk was dit die kragtigste lanseringsvoertuig.

Die 110,6 m lange Saturn V het omtrent 2 minute en 41 sekondes lank gebrand nadat dit gelanseer is, wat die vaartuig tot ’n hoogte van 68 km bo seevlak gedruk en dit teen ’n spoed van 6164 myl per uur (2 756 m/s) laat beweeg het. In dié tyd het dit 2 100 000 kg brandstof verbrand.

Dit is gelyk aan die hoeveelheid brandstof wat ongeveer 734 Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkies in 2 minute kan verbrand. Die Saturn V is later in die Apollo-ruimteprogram gebruik om die eerste maanlanding moontlik te maak.

Lees nog: Ongelooflik – so kan ons oor 20 jaar op Mars woon!

Wernher se bydraes tot die wetenskap en ruimtevaart het groot oplewing in die geskiedenis veroorsaak. Sam Phillips, direkteur van die Apollo-program, het glo gesê hy dink nie Amerika sou die maan so vinnig bereik het as dit nie vir Wernher se hulp was nie.

Wernher is in 1977 op 65-jarige ouderdom in Alexandria, Virginia, oorlede aan pankreaskanker. Hy was egter net een van die prominente figure wat bygedra het tot die ruimtevaartgeskiedenis.

Vir nog inligting oor die ruimte en ruimtevaartgeskiedenis, besoek die Gateway to Space: The Exhibition by die Sandton-konferensiesentrum. Die uitstalling vind van 1 Junie 2016 tot 31 Julie 2016 plaas. Met ’n opvoedkundige uitstalling en ’n gesinsgeoriënteerde speelruimte is dit die ideale uitstappie dié vir die skoolvakansie. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir nog inligting, besoek die webtuiste gatewaytospace.co.za.

? Hou hierdie ruimte dop vir nog oor GTS se intrepid explorer, die Huisgenoot-intern Daniel de Carvalho.