[caption id="attachment_128900" align="alignnone" width="600"]Huisgenoot-intern Daniel De Carvalho blog oor sy “reis” deur die ruimte by die Gateway to Space-uitstalling in Johannesburg. Foto: OJ Koloti Huisgenoot-intern Daniel De Carvalho blog oor sy “reis” deur die ruimte by die Gateway to Space-uitstalling in Johannesburg. Foto: OJ Koloti[/caption]

Jy het al gehoor van die honde en ape wat al ’n ruimtetuig betree het, maar die eerste lewende wesens wat die ruimte binnegevaar het, was vrugtevlieë!

Op 20 Februarie 1947 het die Verenigde State die V-2 [skakel met vorige artikel oor die oorsprong van die V-2] van die White Sands Missile Range in Nieu-Mexiko die sterrehemel ingestuur.

Lees ook: Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .

Die doel van die eksperiment was om die uitwerking van bestraling op lewende organismes teen ’n uiterste hoogte bo seevlak te bepaal. Die vaartuig het binne 3 minute en 10 sekondes ’n hoogte van 109 km bo seevlak bereik.

Dit is ’n gemiddelde spoed van 2065,26316 km/h! Al was die vrugtevlieë naamloos, is hulle lewend teruggevind, wat daarop gedui het dié proses is ’n stap in die regte rigting. (Wie het ooit gesê Buzz Aldrin was die eerste “buzz” in die ruimte?)

Ons dierevriende se bydrae het egter nie hier geëindig nie. In 1949 het die resusaap Albert II die eerste aap geword wat die ruimte invaar. Hy het ’n hoogte van ongeveer 134 km bo seevlak bereik, maar is weens ’n foutiewe valskerm dood. Oor die jare is baie ander ape die ruimte ingestuur; om en by twee derdes van hulle is gedurende hul tog of net daarna dood.

[caption id="attachment_128903" align="alignnone" width="600"]Foto: OJ Koloti Foto: OJ Koloti[/caption]

Albert II se voorganger, Albert I, is op 11 Junie 1948 gedurende die lanseringsproses dood. Hy het net 48-63 km bo seevlak bereik.

Terwyl ek deur die Gateway to Space-uitstalling geloop het, het ek op ’n groot silwer houer afgekom. Deur ’n klein venstertjie kon ek ’n wit-en-swart kopie sien van ’n aap wat heen en weer swaai. Die inligtingsbord by die houer het verduidelik dis ’n replika van die houers wat gebruik is om te toets watter reaksie ape toon wanneer hulle lank afgesonder is, soos tydens ’n ruimtevaart.

Lees ook: Gateway To Space: Wat ’n ervaring!

Ná primate het honde gevolg. Op 20 Julie 1951 het die Sowjet-unie Tsigan (Russies vir “sigeuner”) en Dezik ruimte toe gepos. Dié twee honde het in die R-1 IIIA-1-ruimtetuig gereis en is die eerste hoër organismes wat suksesvol uit die ruimte teruggekeer het. Hulle het egter nie gewentel nie.

Al was hul bydrae belangrik vir ruimtevaart, was dit nie heeltemal so belangrik soos dié van Laika nie. Op 3 November 1957 het die Sowjet-unie die tweede wentelende ruimtetuig, Spoetnik 2, gelanseer. Op dié tuig was Laika. Dié rondloperhond, wat deur die Weste “Moettnik” genoem is, was die eerste dier wat met ’n wentelende tuig gereis het.

Sy is tydens die tog dood omdat die nodige tegnologie om terug te keer van die wenteling af nog nie ontwikkel was nie. Sy het ’n nasionale held geword en in verskeie lande op posseëls gepryk.

Baie ander reistogte is na dié van Laika afgelê. Diere wat ruimtereise suksesvol voltooi en oorleef het, kon bestudeer word. Op 14 September 1968 het die Sowjet-unie die eerste skilpad ruimte toe gestuur. Hy is vergesel van onder meer wynvlieë en meelwurms. Dit was die eerste diere wat die verre ruimte ingestuur is.

Lees ook: Jigg! Kan jy glo dís hoe ruimtevaarders leef?

Baie jare later, in September 2007, het die Europese Ruimteagentskap bekendgemaak danksy hul oorlewingsinstinkte het waterbere gedurende hul FOTOM-M3-reistog 10 dae lank in die oop ruimte oorleef.

Gedurende die daaropvolgende jare het wetenskaplikes, ruimtereisigers en diere-ruimtevaarders voortdurend groot bydraes gelewer tot die avontuurlike ruimtevaart. Die moontlikheid van lewensomstandighede in die ruimte word ook ondersoek. Wetenskaplikes fokus veral op vrae soos: Kan visse in mikro-swaartekrag swem? Kan bye in die ruimte heuning maak? Kan mierneste op ’n ruimtestasie bestaan? Met behulp van diere hoop die mensdom op dié raaisels op te los.

Diere is al opgelei en in groot wetenskaplike ontdekkings aangewend. Al het hulle nog nooit uitsprake gemaak soos “a giant leap for mankind” of vir Houston gesê hulle het ’n probleem nie, het hulle ’n groot rol gespeel in die verkenning van die onbekende. Hulle sal nooit vergeet word nie.

? Hou hierdie ruimte dop vir nog oor GTS se intrepid explorer, die Huisgenoot-intern Daniel de Carvalho.

? Vir nog inligting oor die ruimte en die mensdom (en diereryk) se reise, besoek die Gateway to Space-uitstalling in die Sandton-konferensiesentrum. Die uitstalling word van 1 Junie 2016 tot 31 Julie 2016 aangebied. Met ’n opvoedkundige uitstalling en ’n gesinsgeoriënteerde speelruimte is die opwinding nooit te ver weg nie. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir nog inligting, gaan na gatewaytospace.co.za.

Bronne: Gateway to Space, YOU, calculatoredge.com, Nasa, space.com, Today in Science History, Universe Today, Wikipedia