As jy lus het vir ’n tong-in-die-kies-aksiefliek, is Red 2 (10-12PG LV) net reg vir jou. Nadat hulle die aanslag op hul lewe in Red (2010) oorleef het, is die afgetrede geheime agente Frank (Bruce Willis), Victoria (Helen Mirren) en Marvin (John Malkovich) terug om die verwaande snuiters te wys hoe ’n mens dinge doen. Hierdie keer is hulle op ’n wêreldsending om ’n vermiste kerntoestel op te spoor. ’n Leërmag-sluipmoordenaars en korrupte regeringsamptenare doen weer hul bes om hulle dood te maak. Anders spelers is Mary-Louise Parker (Weeds), Anthony Hopkins en Catherine Zeta-Jones.

Die rolprent het gemengde reaksie gekry. Die webtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 42 persent en 47 persent gegee. Rotten Tomatoes het gesê ten spyte van die goeie rolverdeling en die spelers se oënskynlike pret, “vervang Red 2 baie van die lekker plesier van sy voorganger met leë, oordrewe gedoentes”. Die Britse rolprenttydskrif Empire se James Dyer was meer goedgesind en het dit drie sterre gegee. Hy skryf: “Die ligte toon is verfrissend in ’n breinlose aksie-baljaardery en hoewel dit nie ’n uitdaging is nie, lyk dit asof al die betrokkenes soveel pret het dat dit moeilik is om nie meegevoer te raak nie.”

Die kleingoed sal bly wees om te hoor The Smurfs 2 (PG) is in teaters. Soos sy voorganger van 2011 is daar interaksie tussen akteurs en animasie, in die vorm van die Smurfs. Hierdie keer word Smurfette (met die stem van popsangeres Katy Perry) deur die bose towenaar Gargamel (Hank Azaria van The Birdcage) ontvoer, want sy ken ’n geheime towerspreuk wat sy skepsels, die Naughties, in regte Smurfs kan omskep. Hy neem haar Parys toe en met die hulp van hul mensevriend Patrick (Neil Patrick Harris van How I Met Your Mother) gaan red die Smurfs haar.

Kritici het die rolprent uitmekaargetrek en het net 13 persent op Rotten Tomatoes gekry. Die resensiewebtuiste beskryf dit as: “’n grootliks nie-ambisieuse, sjarmelose versameling leë grappies”. Empire se Olly Richards was ’n bietjie genadiger. Hy het dit twee sterre gegee en gesê dis net vir klein kindertjies. “Daar is geen toegewing aan volwassenes wat hulle moet vergesel nie. Dis baie ernstig en sy grappe is maklik, maar dis ’n deeglike produk met ’n bewonderenswaardige moderne boodskap.”

Aanhangers van gruwelfilms kan eindelik uitsien na ’n uiters skrikwekkende rolprent. The Conjuring (16 V) is glo gegrond op ’n regte saak wat Ed en Lorraine Warren (Patrick Wilson van Watchmen en Vera Farmiga van Up in the Air), ondersoek het. Hulle is veral bekend vir hul betrokkenheid by ondersoeke na die spokery in Amityville in die staat New York, wat die inspirasie vir heelwat boeke en rolprente was. Toe ’n egpaar en hul vyf dogters ’n huis in landelike Rhode-eiland betrek, word hulle deur vreesaanjaende verskynsels geteister en hulle vra die Warrens se hulp.

Die rolprent het meestal goeie resensies gekry. Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 80 persent en 68 persent gegee. Eersgenoemde het dit as “goed gemaak en wonderlik skrikwekkend” beskryf. Die regisseur, James Wan (Saw, Insidious), is geloof vir hoe hy vrees met outydse tegnieke geskep het. Empire se Owen Williams het dit vier sterre gegee. Hy skryf: “’n Sterk rolverdeling en ’n atmosfeer van ware vrees beteken dat ten spyte van ’n katalogus van dadelik herkenbare spooktoestelle, The Conjuring meer is as die somtotaal van sy vreesaanjaende dele.”

Midnight’s Children (13 V) is gegrond op die bekroonde roman deur Salman Rushdie, wat ook die draaiboek geskryf het en die verteller is Saleem (Satya Bhabha), die buite-egtelike kind van ’n bedelaar, word om middernag gebore op die aand in 1947 toe Indië sy onafhanklikheid van Brittanje verklaar. Hy word omgeruil met ’n ander baba, Shiva (Siddharth), die enigste kind van ’n skatryk egpaar. Die twee word groot en lei die lewe wat vir die ander bestem was. Saleem het ook mistieke magte en kan kommunikeer met die ander kinders wat op dieselfde tyd gebore is.

Die rolprent is met gemengde reaksie ontvang. Rotten Tomatoes het dit net 42 persent gegee en die gevolgtrekking is: “Hoewel Midnight’s Children mooi is om na te kyk en op plekke roerend is, is die draaiboek te toegeeflik. Deepa Mehta se regie, hoewel ambisieus, slaag nie daarin om die verhaal samehangend oor te dra nie.” Empire en Total Film was toegeefliker. Total Film se James Mottram het dit drie sterre gegee en Empire se Kim Newman vier. Kim het Rushdie se “sensitiewe hantering van sy eie materiaal” geloof. Kim skryf: “Die fliek kan nie die hele roman inprop nie, maar ’n groot rolverdeling beeld die boek se mengsel van humor, betowering, geskiedenis, woede en liefde uit.”

Die regisseur Lee Daniels se riller The Paperboy (16 LPVSN) verskil heelwat van sy hoogs aangeskrewe, spannende drama Precious (2009). Die rolprent speel af op ’n klein dorpie in Florida in die 60’s. Die verleidelike Charlotte Bless (Nicole Kidman) oortuig die ondersoekende joernalis Ward Jansen (Matthew McConaughey) om haar te help om haar ter dood veroordeelde verloofde, Hillary Van Wetter (John Cusack van 2012), se onskuld te bewys. Ward se jonger broer, Jack (Zac Efron), raak betrokke en word behep met Charlotte.

Die fliek het gemengde reaksie van kritici ontlok. Dit het 43 en 45 persent by onderskeidelik Rotten Tomatoes en Metacritic gekry. Rotten Tomatoes beskryf dit as prullerig en melodramaties. Die resensent Eric D Snider, wat sy eie webtuiste het, skryf: “Dis moeilik om hierdie sweterige nonsens ernstig op te neem, maar ek moet sê, die fliek is nie vervelig nie.” Empire se Angie Errigo het dit drie sterre gegee. Sy skryf: “Kidman is buitengewoon as die mallerige 60’s-meisie, en as jy hou van skouspelagtige, koorsagtige nonsens kan hierdie ’n klein maar waarderende kultus vind.”

Phata Poster Nikhla Hero (ouderdomsperk moet aangekondig word) –  wat kan vertaal word as “plakkaat skeur oop en ’n held spring uit” – is ’n Bollywoodse aksie-komedie. Dit gaan oor ’n dorpsjapie, Vishwas (Shahid Kapoor), wat drome het om ’n rolprentster te word, hoewel sy ma wil hê hy moet ’n polisieman word. Toe hy na Moembai reis vir ’n onderhoud om by die polisie aan te sluit, ontmoet hy ’n skrywer wat hom help om ’n klein rolletjie in ’n rolprent te kry. Net toe dit lyk asof hy ’n ster gaan word, kom sy ma kuier. Die rolprent word wêreldwyd op 20 September uitgereik. Dis nog nie aan resensente vertoon nie; dus is daar geen resensies nie.

Sandra Visser