In die Afrikaanse komedie Bakgat! 3 (10-12PG LNS) is Wimpie (Ivan Botha, Pieter in 7de Laan) en Katrien (Cherie van der Merwe-Coetzee) nou verloof en op pad Londen toe met groot verwagting sodat hy kan klubrugby speel. Maar hulle teleurstelling kom gou toe Wimpie se Engelse spanmaats nie so verwelkomend is as wat hy gehoop het nie en hulle boonop in ’n piepklein woonstelletjie moet bly. Sy aartsvyand, Werner (Altus Theart van Getroud met Rugby), is ook in Londen maar pleks van hul stryd voortsit, besluit die twee om ’n Trots-Suid Afrikaanse-span te begin – selfs al lyk dit onmoontlik dat hulle die seisoen sal wen.

Die Burger se Laetitia Pople het die fliek twee sterre gegee en gesê dat sy meer verwag het. “Dis eintlik presies dieselfde storie as Bakgat! en Bakgat! 2, behalwe dat Big Ben nou deel is van die agtergrond.” Pople het ook gedink die grappies is flou en die storie herinner te veel aan Hollywood se romantiese komedies.

Die kleinspan behoort DreamWorks se jongste animasiefliek, Turbo (PG), te geniet. Dit is die grootste hoofstroom-uitreiking van die week. ’n Gewone tuinslak (stem deur Ryan Reynolds van Green Lantern) droom daarvan om aan sy vervelige bestaan te ontsnap toe hy danksy ’n fratsongeluk skielik so vinnig soos ’n kar kan seil. Kan hy moontlik die groot Indy 500-motorwedren wen?

Die fliek het meestal gemiddelde resensies gekry volgens die fliekresensie-webtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic, wat dit onderskeidelik 63 en 59 persent gegee het. Rotten Tomatoes sê dat dit “nie naastenby so vindingryk is soos wat verwag is nie, maar Turbo spog met net genoeg visuele sensasie en skerp stemme-rolspel om dit as ’n nie-veeleisende gesinsvriendelike fliek aan te beveel”.

We’re the Millers (16 DLS) is ’n komedie met Jason Sudeikis van Saturday Night Live as ’n daggahandelaar wat met ’n plan vorendag kom om dagga van Mexiko na die VSA te smokkel: skep ’n familie wat met vakansie gaan in hul motorwoonwa. Hy huur ’n ontkleedanseres (Jennifer Aniston) om sy vrou te speel en ’n hawelose meisie (Emma Roberts van Scream 4) en ’n onnosel tiener buurseun (Will Poulter van The Chronicles of Narnia: The Voyage of the Dawn Treader) om sy kinders te wees. Dis natuurlik nie lank voor sake begin skeefloop nie.

Rotten Tomatoes het die film 47 persent gegee en gesê dit is “’n vervelige, aanstootlike (of dalk net aanstootlik vervelige) [film wat] sy potensiaal – en die spelers – vermors, met ’n komedie wat oneweredig en sleg aanmekaargesit is”.

Die Britse film tydskrifte Empire en Total Film was meer vergewensgesind en albei het die fliek drie sterre gegee. Laasgenoemde se Paul Bradshaw skryf: “Dis voorspelbaar, nie politiek korrek nie en te lank, maar ’n hand vol kere se lag laat ’n mens die res vergewe. Êrens daar binne is ’n baie skerper film, maar dié een is goed genoeg.”

Die tienermisdaadbevegters Kick-Ass (Aaron Taylor-Johnson van Anna Karenina) en Hit Girl (Hugo se Chloë Grace Moretz) is terug in Kick-Ass 2 (16LV), die opvolg van drie jaar gelede se fliek wat omstredenheid veroorsaak het oor die eksplisiete geweld en die 11-jarige Hit Girl se gevloek. Die twee se heroïese toertjies het ’n groep teweeggebring wat hulself Justice Forever noem en gelei word deur Colonel Stars and Stripes (Jim Carrey). Hulle wil deel word van die stryd teen misdaad. Intussen het Kick-Ass se ou vyand, Red Mist (Christopher Mintz-Plasse van Role Models), besluit om himself te herskep as ’n super-skurk.

Die fliek het meestal swak resensies gekry: Rotten Tomatoes het dit slegs 28 persent gegee. Robert Roten van die webtuiste Laramie Movie Scope sê: “Soos baie opvolgflieks, is Kick-Ass 2 nie so goed soos die oorspronklike nie. Dit misluk daarin om ’n delikate balans, wat so goed in die eerste fliek gedoen is, tussen komedie en geweld te skep.” Empire en Total Film se resensente was meer tevrede – albei het dit drie sterre gegee. Eersgenoemde se Owen Williams het geskryf dit is “’n meer beskeie sukses as die eerste Kick-Ass, maar dit het steeds oormatige aksie en die wilde gelag wat dit veroorsaak is net reg.”

Vir die wat van iets minder hoofstroom hou, is daar The English Teacher (16 L), ’n komedie-drama oor ’n ongetroude Engelse onderwyser in haar 40’s, Linda Sinclair (Crazy Stupid Love se Julianne Moore), wie se naaste vriendskappe die denkbeeldige verhoudings is wat sy met haar gunstelingskrywers aanknoop. Toe ’n oudleerder (Michael Angarano van The Forbidden Kingdom) terugkeer na die dorp nadat hy nie die paal in New York kon haal as ’n dramaturg nie, is Linda so beïndruk met sy werk, sy besluit om ’n kans te waag en haar skool te oorreed om sy verhoogstuk op te voer.

Die film het meestal negatief of gemengde resensies gekry, volgens Metacritic, wat dit 42 persent gegee het. Leah Rozen van TheWrap.com het dit beskryf as “’n innemende komedietjie wat die gehoor tevrede wil stel en in dié beskeie doel slaag”, maar Stephen Whitty van The Newark Star-Ledger aanlyn koerant het dit gekritiseer omdat dit “nie genoeg doen met die rolverdeling of die idee agter die storie nie; ’n onderpresteerder wat eenvoudig nie hard genoeg probeer nie.”

Shuddh Desi Romance, of “suiwer Indiese romanse”, (ouderdomsbeperking moet nog aangekondig word) is ’n romantiese Bollywood-komedie oor drie jong mense (Sushant Singh Rajput, Parineeti Chopra en Vaani Kapoor) wie se lewe oorkruis terwyl hulle die samelewing se reels verontagsaam en hul hart volg.

Mohar Basu van Koimoi.com het die fliek drie en ’n half sterre gegee en dit beskryf as “’n welkome verandering vir siniese mense vir wie tipiese romanses onrealisties is”, en het die elektrisiteit tussen die hoof akteurs geloof.

Sandra Visser