Vir liefhebbers van strokiesprente is daar ’n opwindende fliek om na uit te sien: Thor: The Dark World (10–12PG V). Dié opvolg op die treffer Thor van 2011 is  gegrond op die gelyknamige Marvel-strokiesprentkarakter. Ná die gebeure in The Avengers (2012), is Loki (Tom Hiddleston) gevange geneem en die Bifrost is herstel sodat kontak tussen die aarde en Asgard weer moontlik is. Maar kort nadat Thor (Chris Hemsworth) die vrede herstel het in die Nine Realms, keer die ou vyande, die Dark Elves, terug om wraak te neem.

Die rolprent is meestal goed ontvang. Die resensie webtuistes Metacritic en Rotten Tomatoes het dit onderskeidelik 58 en 73 persent gegee. Laasgenoemde het tot die slotsom gekom: “Dis dalk nie een van die beste rolprente uit die the Marvel-heelal nie, maar Thor: The Dark World bied tog heelwat van die humor en aksie wat aanhangers verwag.” Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film was beïndruk en albei het die rolprent vier sterre toegeken. Empire se Chris Hewitt was gek daarna, en het geskryf die gehoor word “op ’n boeiend en dikwels verbasend snaakse wyse herinner dat, ná The Avengers en Iron Man 3, niemand beter lokettreffers skep as Marvel nie”. Total Film se Neil Smith het dit beskryf as “’n boeiende opvolg wat nooit te lank donker is nie”.

Aan die ander kant van die spektrum is daar The Butler (13 LPV), die nuwe drama van die bekroonde regisseur Lee Daniels (Precious). Die rolprent is losweg gegrond op die lewe van ’n hoofbediende in die Wit Huis, wat in die fliek Cecil Gaines (Forest Whitaker van The Last King of Scotland) genoem word. Hy het drie dekades lank, van die 50’s tot die 80’s, vir agt Amerikaanse presidente gewerk. In die rolverdeling is bekendes soos Oprah Winfrey, in haar eerste silwerdoekrol sedert 1998 se Beloved,  Alan Rickman, Vanessa Redgrave en Terrence Howard.

Dié rolprent het meestal goeie resensies gekry. Metacritic het dit 66 persent gegee en Rotten Tomatoes 73, en dit beskryf as “’n aangrypende verhaal wat ontroer. The Butler oorkom ’n oneweredige narratief te danke aan sterk vertolkings deur ’n sterbelaaide rolverdeling”.  Tom Long van die Detroit News skryf: “The Butler meng groot vraagstukke en groot mense en die ware lewe met verrassende grasie.” Ken Hanke van die Mountain Xpress het dit vier sterre gegee en “’n waardige rolprent” genoem.

Andersyds was Empire se Simon Braund ietwat minder goedgesind en het dit drie sterre toegeken. Hy noem dit “manipulerend en prekerig”. Simon geskryf: “Daar is geen twyfel aan Lee se opregtheid nie, maar hy maak die pap omtrent dik aan.” Hy sê voorts, hoewel die rolprent ’n goeie boodskap het, dit selfingenome en sentimenteel is, iets waarvan gehore buite die VSA waarskynlik nie sal hou nie.

As jy nie gek is na fantasie-aksie of hoogdrawende dramas nie, kan jy Baggage Claim (PG) op die proef stel. Die pragtige Paula Patton (Mission: Impossible – Ghost Protocol) vertolk die rol van ’n lugwaardin wat haar 30 dae gun om haar droomman te ontmoet, nadat sy hoor haar kleinsus (Lauren London van die TV-reeks The Game) gaan trou.

Die rolprent is sleg ontvang en het by Metacritic en Rotten Tomatoes onderskeidelik 34 en 15 persent gekry. Laasgenoemde sê dit “volg dieselfde resep as baie ander suksesvolle romantiese komedies, sonder om ’n eie persoonlikheid te vestig”. Christy Lemire van Rogerebert.com het dit ’n ster en ’n half gegee. Sy sê dis “so argaïes in sy uitbeelding van vroulike eiewaarde, en so beledigend, dis verstommend dit kom uit in 2013 en nie 1963 nie”. Total Film se Ken McIntyre gee dit twee sterre en sê dit het vanuit die staanspoor “subtiliteit die deur gewys”. Hy sê voorts dis die “rolprentweergawe van ’n pan teen die kop”. Probeer dit as jy lus het vir iets ligs en wollerigs om jou op te beur.