Die Amerikaanse somerlokettreffers het gekom en gegaan; dus is daar vandeesweek ’n paar kleiner flieks, maar hulle het steeds groot sterre in hoofrolle. Thanks for Sharing (16 TNS) is ’n komediedrama met Mark Ruffalo (The Hulk in The Avengers) wat ’n gerehabiliteerde seksverslaafde, Adam, speel wat oorweeg om sy selibate lewe opsy te skuif toe hy die fiksheidsfanatikus Phoebe (Gwyneth Paltrow) ontmoet. Intussen is Adam se vriende by sy ondersteuningsgroep almal in hul eie verskillende fases van verslawing: middeljarige Mike (Tim Robbins van The Shawshank Redemption) is omgekrap toe sy seun, wat ’n dwelmverslaafde is (We Bought a Zoo se Patrick Fugit) weer in sy lewe opdaag terwyl die ongevalle dokter Neil (Josh Gad van Love & Other Drugs) in die ontkenningsfase is toe hy vir Dede (die popster Pink) ontmoet, wat ook besig is om klein treë op haar pad na herstel te gee. Die fliek het gemengde resensies ontvang. Fliekresensie-webtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het dit 53 en 55 persent onderskeidelik gegee. By eersgenoemde was die mening dat “Thanks for Sharing ’n paar fantastiese toneelspel bevat, maar dit nie so diep in dié moeilike tema delf soos dit moet nie”. Die Britse filmtydskrifte Empire en Total Film was meer positief – albei het dit drie sterre gegee. Empire se Anna Smith het die toneelspel ook lof toegeswaai. Sy skryf: “Die akteurs het goeie vertonings gelewer; Pink beïndruk ’n mens met haar debuut, en daar is ’n paar baie goeie tonele wat diep in die psigo-seksuele donkerte delf. Maar dit word opsy geskuif vir oulike sêgoed en drukkies. ’n Lekker, maar soms oorgeesdriftige klop op die skouer vir herstellende verslaafdes.”

Justin Timberlake verskyn in die riller Runner, Runner (13 TSG) oor Richie Furst, ’n student wat sy onderrig betaal deur pokertoernooie aanlyn te wen. Toe hy al sy geld verloor deur iets wat hy as ’n verneukery beskou, reis hy na Costa Rica om die ryk baasbrein van die webtuiste, Ivan Block (Ben Affleck), aan te vat. Tot Richie se verbasing bied Ivan aan om hom deel te maak van die skema, maar hy word vinnig vasgevang in ’n gevaarlike speletjie.

Die film het nog nie baie resensies ontvang nie, maar so ver was dit meestal negatief. Empire en Total Film het dit elk twee sterre gegee. Laasgenoemde se Stephen Kelly het dit opgesom met: “Ten spyte van (die regisseur Brad) Furman se bedrewe hantering, is dit ’n verhaal wat ’n taamlik eenvoudige, voorspelbare roete volg wat nooit regtig die ywerige Timberlake of skurkagtige Affleck kans gee om te wys wat hulle kan doen nie.” Stella Papamichael van Digitalspy.co.uk stem saam: “Die hele rolverdeling word gekul deur ’n film wat goedkoop opwinding belangriker ag as geloofwaardige karakters, en die probleem word vererger deur ’n intrige wat klinies uitgedink is.”

As jy soek na ’n tradisionele avontuurverhaal, sal jy dalk Red Tails (13 OG) geniet. Die fliek is vervaardig deur Star Wars se skepper, George Lucas, wat al jare probeer om die storie na die silwerdoek te bring. Dit vertel die verhaal van die Tuskegee Airmen, die eerste swart Amerikaanse vegvlieënier-eskader, wat deel was van die Verenigde State se leër gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Terrence Howard, Cuba Gooding Jnr en die sanger Ne-Yo verskyn daarin.

Die fliek het meestal swak resensies gekry. Rotten Tomatoes het dit 40 persent gegee en die konsensus was dat dit “ten spyte van ’n waardige storie wat op feite gegrond is en met ’n goeie bedoeling, ly aan een-dimensionele karaters, voorspelbare dialoog en ’n hoop cliché’s.” Maar weereens was Empire en Total Film positiewer en albei het die film drie sterre gegee. Empire se Ian Nathan het dit beskryf as “’n vermaaklike, tradisionele avontuurverhaal wat nooit die volle potensiaal van sy onderwerp bereik nie”. Total Film se Paul Bradshaw skryf: “Die storie verdien ’n volle, epiese (Clint) Eastwood-interpretasie vol somber insig en elegante onderbeklemtoning, maar pleks daarvan kry dié heldhaftige manne die volle Lucas-film-behandeling: ’n springmielie-herdenking wat jou oë ewe veel laat rek as wat dit skaamteloos soetsappig is.”

Molly & Wors: Die Movie (10-12O) is gegrond op die KykNET-komediereeks oor die wel en wee van die middeljarige motorwerktuigkundige Wors (Willie Esterhuizen van Vetkoekpaleis) en sy vrou, Molly (Lizz Meiring). Toe Wors ’n toer Amsterdam toe wen, beplan Molly om saam te gaan, maar dinge loop skeef en Wors beland op sy eie in Nederland. Hy is salig onbewus van wat by die huis aan die kook is terwyl hy dit terdeë geniet. Sal sy huwelik dit oorleef?

Die Burger se Laetitia Pople het die fliek net een ster gegee en dit beskryf as platvloers, goedkoop en vol onsmaaklike grappies. Pople het afgesluit met: “As ek nie ’n betaalde resensent was nie, sou ek uitgestap het.”

Michael Douglas en Matt Damon vat hul waaghalsigste rolle nóg aan in Behind the Candelabra (16 DTS). Dit is die bekroonde regisseur Steven Soderbergh se kyk na die vertroebelde ses jaar lange verhouding tussen die flambojante pianis Liberace (Douglas) en sy jong lewensmaat, Scott Thorson (Damon).

Die meeste resensente is in die wolke: Rotten Tomatoes gee dit 95 persent en Metacritic 82. Eersgenoemde is dit eens dat die fliek aandoenlik is sonder dat dit eerlikheid opoffer en bevat toneelspeldeur Douglas en Damon wat pryse ingeoes het en kenmerkende skerp regie deur Soderbergh.

Empire en Total Film het dit albei vier sterre gegee, met laasgenoemde se Emma Morgan wat sê: “Dit ontbloot die homoseksualiteit wat Liberace uit die publieke oog probeer hou het – nie juis die rooitapyt-behandeling waarvan die pianis gedroom het nie. Dis ook nie die fantastiese kitsch biografiese fliek wat sommige verwag het nie. Dis eerder ’n skerp, klassieke studie van verhoudings, seks en roem.” Empire se Dan Jolin het die toneelspel se lof besing, veral Douglas wat “dit met sensitiwiteit en simpatie” uitvoer. Hy prys ook vir Damon, wat “beïndruk in die moeilikste tipe rol: een wat nie windmakerig is nie”.

Die twee dokumentêre flieks wat dié week uitgereik is, verskil hemelsbreed van mekaar.

One Direction: This Is Us (PG L) is verseker ’n resensie-bestande fliek. Dit maak nie saak wat die kritici sê nie, sy beoogde gehoor gaan tou staan vir die fliek. Dit is ’n kykie na die grootste mannegroep ter wêreld op die oomblik en vertel die verhaal van Niall, Zayn, Liam, Harry en Louis se pad boontoe.

Resensente kan gewoonlik nie wag om dié soort films uitmekaar te ruk nie, maar dit het verbasend goeie resensies gekry, met 63 persent op Rotten Tomatoes waar dit beskryf is as “meestal vir bekeerdes, maar pret vir aanhangers – en net genoeg goed geredigeerde konsertmateriaal om die onbetrokke kyker te vermaak”. Empire en Total Film het dit albei drie sterre gegee, en laasgenoemde se Matthew Leyland skryf dat dit “die fantastiese vyf voorstel as tipiese, oulike, alledaagse miljoenêr-ikone”. Empire se Anna Smith het gesê dit “werk as ’n konsertfliek vir aanhangers sowel as – in ’n mindere mate – ’n kykie na die fenomeen van hul bekendheid.”

Metallica: Through the Never (13 LV) kombineer beeldmateriaal van ’n vertoning deur die heavy metal-groep met ’n fiktiewe storie oor een van hul toer-assistente (Dane DeHaan van Chronicle) wat op ’n gevaarlike tog gestuur word tydens die vertoning. Die film het meestal goeie resensies gekry en het 82 persent op Rotten Tomatoes gekry, waar die konsenus is dat “met verbeeldingryke kamerawerk en redigering is Metallica: Through the Never ’n elektriese, aangrypende konsertfliek, maar die fiktiewe tonele minder suksesvol”. Todd Gilchrist van TheWrap.com het gesê dit is “’n groot, ambisieuse weergawe van konsertflieks wat goed genoeg visueel en beslis musikaal werk om te vergoed vir die swak poging om ’n fiktiewe voorstelling te gee van dit wat ’n aanhanger alles sal doen vir sy gunstelinggroep”.

Sandra Visser