Daar is niks boos omtrent motorfietsryers nie, het ’n motorfietsryer Maandag buite die Roodepoort-landdroshof gesê. “Ons is ook mense, en ons is nie boos soos ons soms uitgekryt word nie. Hierdie is ’n hartseer dag vir motorfietsryers in die land,” het Trudie Carr gesê.

'Hierdie is ’n hartseer dag vir motorfietsryers in die land.'

Carr was een van verskeie mense wat die verhoor van Meekahaetele Motoau Masooa, 44, bygewoon het wat na bewering Vrydag in Johannesburg die motorfietsryer Douglas Pearce, 39, doodgeskiet het.

Volgens Carr was sy en Pearce vriende.

Pearce en Masooa het blykbaar in ’n argument op die pad betrokke geraak en afgetrek om die konfrontasie voort te sit.

Masooa het na bewering vir Pearce in die rug geskiet en hy het op die toneel beswyk.

Masooa is ook na die voorval Vrydag onder polisiebewaking vir kopbeserings in die hospitaal behandel.

Die borgtogverhoor is deur landdros Denise Smith aangehoor en sy het borgtog van R5 000 aan Masooa toegeken. Die saak is tot 25 April uitgestel.

Bronne: Sapa, Beeld