Drankmisbruik veroorsaak ’n derde van alle padongelukke.

Regtens mag bestuurders net 0,05 g alkohol per 100 ml bloed hê. Bestuurders mag as ’n reël net een eenheid alkohol per uur drink. Om baie water en sterk swart koffie te drink, ’n koue stort te neem of enige ander nugterword-wenke te beproef sal min doen om die alkoholvlak in jou bloed te verminder.
As ’n bestuurder skuldig bevind word aan dronkbestuur, kan hy ses jaar tronkstraf of ’n boete van R120 000 kry.

’n Wynglas van 250 ml is sowat 3,3 eenhede, ’n bier is 1,25 eenhede en 25 ml whiskey of brandewyn is een eenheid. ’n Skemerkelkie en ’n sopie kan enige iets van 2 tot 4 eenhede per drankie bevat.

As ’n bestuurder skuldig bevind word aan dronkbestuur, kan hy ses jaar tronkstraf of ’n boete van R120 000 kry, sowel as ’n opgeskorte rybewys en ’n misdaadrekord.

Wat om te doen wanneer jy vir dronkbestuur afgetrek word:

  1. Bly kalm. Moenie inhegtenisneming weerstaan of gewelddadig raak nie. Jy wil nie jou kans op borgtog verminder nie.
  2. Jy het die reg om met waardigheid behandel te word en jy mag swyg. Luister aandagtig wanneer jou regte voorgelees word. Jy moet jou volle naam aan die polisiebeampte verstrek. Jy het die reg om iemand te bel, hetsy familielid, vriend of regshulp.
  3. Jy mag nie weier om ’n bloedmonster te gee nie. Die distriksgeneesheer, verpleegster of mediese amptenaar by die gevangenis sal binne twee uur ná jou inhegtenisneming ’n bloedmonster neem en aan die staatslaboratorium gee vir toetse.
  4. Volg die opdragte van die offisier wat jou in hegtenis neem. Die kans is goed dat jy in die polisiekantoor gehou sal word tot jy weer nugter is en jy kan met ’n waarskuwing vrygelaat word en verplig word om binne 48 uur in ’n hof te verskyn. Jy kan ook oornag toegesluit word.
  5. Maak seker dat jy die besonderhede en naam van die polisiekantoor waar jy gehou word, die saaknommer en die naam van die ondersoekbeampte kry. Jou regsverteenwoordiger gaan dié besonderhede nodig hê.

Bron: LIPCO Law for All