’n Onlangse opname deur die bemarkings-en-meningsfirma Ipsos OTX1 onder 14 160 bestuurders toon Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste verhouding deelnemers (41 persent) wat aandui hulle het al ’n teksboodskap of e-pos gestuur of sosiale media gebruik terwyl hulle bestuur.

Met dié dat jou oë gemiddeld vyf sekondes van die pad af is elke keer dat jy jou foon gebruik, sal jy teen net 88 km/h ongeveer die lengte van ’n rugbyveld kan dek. Sal jy daardie afstand met gemoedsrus met toe oë aflê?

Wêreldstatistiek van Texting and Driving Safety3 toon dis gevaarliker om jou foon te gebruik terwyl jy bestuur as om te drink en bestuur, want die stuur van teksboodskappe vertraag remafstand met 18 persent. Dit beteken teen die tyd dat jy besef jy moet rem, is dit waarskynlik te laat.

Niki Cronje van groepbemarking by IMPERIAL I-Pledge beveel aan bestuurders ontkoppel van die digitale wêreld wanneer hulle in hul voertuig klim.

“Ons het verslaaf geraak aan voortdurende tegno-aansluitbaarheid. Breek die siklus deur te sorg dat jy alle relevante mense gekontak het met wie jy dalk sal moet praat voor jy in die voertuig klim. Laat byvoorbeeld die kinders weet jy is op pad om hulle by die skool te kom haal en kyk eers weer na jou foon wanneer jy by die bestemming aangekom het.”

Hier is nog wenke van Niki:

  • Laat weet mense jy is nie bereikbaar terwyl jy bestuur nie en dat veiligheid jou grootste prioriteit is.
  • Weerstaan die drang om teksboodskappe te stuur deur jou selfoon in die kattebak toe te sluit. Hierdie gewoonte sal die drang verminder om teksboodskappe te stuur en jou risiko vir ’n breek-en-gryp-voorval verminder.
  • As jy dit nie kan verduur om van jou selfoon geskei te wees nie, stel dit dan op stil en verwyder so die versoeking om te reageer. As jy ’n passasier het, gee vir hulle die toestel om namens jou te reageer.
  • Lê ’n persoonlike eed af by ipledge.co.za om nie teksboodskappe te stuur of aan sosiale media deel te neem terwyl jy op die pad is nie. Onthou, die ander mens kan jou kind, ma of pa, of broer of suster wees.

“Padveiligheid begin by ieder en elk van ons – dit is ’n bewuste besluit om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou optrede op die pad, en dit berus by ons almal om op te hou deelneem aan aktiwiteite wat ons, en mekaar, se lewe in gevaar stel terwyl ons op die pad is.”

BRON: Persverklaring van Imperial I-Pledge