Toe  die Mercedes-Benz-W123-model in Januarie 1976 bekendgestel is, het dit ’n oortuigende kombinasie van swier en heelwat tegniese nuwighede gebied.

Die sedanreeks was eerste beskikbaar, en ’n jaar later ’n koepee- (C123) en – vir die eerste keer – ’n stasiewa-model (S123). Gedurende die volgende 10 jaar is ongeveer 2,7 miljoen voertuie gebou, onder meer sedans met ’n lang asafstand en onderstelle wat spesiale bakwerk kan ondersteun.

Die era van die W123-modelreeks is ’n besondere hoofstuk in die suksesverhaal van die E-klas, soos dié oorgangsmodel van Mercedes-Benz van 1993 af genoem is. Boonop sit die 2016-E-klas-model hierdie suksesverhaal voort.

Maar waar het alles begin?

Tussen 22 en 28 Januarie 1976 het Mercedes-Benz die oorgangsklassedan by die Paul Ricard-renbaan in die suide van Frankryk aan spesialismedia bekendgestel. Vir die geleentheid is ’n trein by die Duitse Nasionale Spoorweë gehuur om die vloot toets- en demonstrasievoertuie van Stuttgard na Frankryk te vervoer.

Lees ook: Splinternuwe Lexus RX in Suid-Afrika

Nie minder nie as 33 aangewese, toegeruste modelle van die W123-reeks is dus vir die eerste keer onder die Middellandse son aan motorjoernaliste bekendgestel. Die media het deurgaans positief gereageer op die motor se ingenieurseienskappe en ontwerp.

Kopers was hulle dit eens; kort nadat die W123 beskikbaar geraak het, was die eerste jaar se hele produksievoorraad uitverkoop. In die eerste jaar van vervaardiging is vroeë tweedehandse modelle dikwels teen hul oorspronklike prys verkoop.

Destyds al was die ontwerp van die W123-model toekomsgerig. Daar was talle nuwighede wat veiligheid betref, en wat styl en estetika betref, is aspekte van die Mercedes-Benz-W116-reeks-, -S-klas- en -R/C 107 SL-modelle van daardie tyd behou. Let byvoorbeeld op na die kopligte wat horisontaal geplaas is, eerder as vertikaal.

Standaarde vir die toekoms: veiligheid en gerief

Net die beste veiligheidsmaatreëls, uitmuntende gerief en maklike onderhoud – dit was Mercedes-Benz se ingenieurs se vereistes toe die modelreeks se spesifikasies in 1968 uitgestippel is. Maar dit het nie daar opgehou nie; hierdie eienskappe is kenmerkend van al die daaropvolgende E-klasmodelle.

Die W123-ontwerpstudies spreek ook van ’n futuristiese uitkyk: Dink aan die skerp hoeke, n massiewe dak-oorhang agter, ’n agterruit met ’n skerp helling en bonkige rubberpanele om die bakwerk. Die ontwerp is mettertyd afgerond, en teen 1973 was die elegante buitelyne van die W123 grootliks vasgestel.

Lees ook: Nuwe Ford Fiesta 1.0 EcoBoost Ambiente

Verbeterde veiligheid vir die insittendes was ook een van die prioriteite tydens die ontwikkeling van die W123-reeks. Die ontwerpers het toe reeds die gebruik van lugsakke oorweeg, en met die 1982-model was dit as opsionele ekstra beskikbaar. ’n Stewige passasierskajuit, groter frommelsones en sterker stutte in die deure is ook ingesluit. Daarby het die veiligheidstuuras, wat deur Béla Barényi ontwerp en in 1963 gepatenteer is, in die W123 sy debuut as ’n volledige stelsel gemaak.

Onder die tegniese oplossings wat die W123 uit die S-klas oorgeneem het, was die dubbele, wensbeenagtige vooronderstel met ’n zero-skuurradius, terwyl baie van die enjinvariëteite met die bekendstelling van die modelreeks hul oorsprong gehad het in die vorige reeks, die W114/W115 (“Stroke/8”). ’n Nuwigheid in die W123 is die 2,5 L, sessilinder-M123-enjin van die 250-model (95 kW/129 PK).

Mercedes-Benz het sedert 1978 voortgegaan om die enjinreeks in sy oorgangsklas voortdurend te hersien. Nuwe aankomelinge het die vyfsilinder-turbo-aangedrewe OM 617-enjin in die 300 D Turbodiesel van 1981 (92 kW/125PK) ingesluit, maar in Duitsland was dit net as ’n stasiewa beskikbaar.

Ry die toekoms tegemoet

Mercedes-Benz het vroeg al alternatiewe aandrywingstelsels vir die W123-modelreeks begin ondersoek. In 1983 is ’n 280TE byvoorbeeld toegerus met ’n waterstofaangedrewe stelsel, wat volg op 1982 se eksperimentele elektries aangedrewe voertuig, wat ook op die stasiewa-model gegrond is. En destyds in 1981 het Mercedes-Benz ’n 200-model geskep met ’n dubbelbrandstofstelsel (vloeibare petroleumgas en petrol).

Die W123-reeks-sedan is tot November 1985 vervaardig; die era van die ewe suksesvolle W124-reeks het reeds 10 maande tevore begin. Produksie van die uiters suksesvolle stasiewamodelle in die W123-reeks het tot Januarie 1986 voortgeduur.

Van 1975 tot 1986 is bykans 2,7 miljoen voertuie vervaardig, en die meeste hiervan was sedans met die normale asafstand (2 375 440 eenhede). Altesaam 199 517 stasiewa-eenhede is gebou, en 99 884 koepeemodelle. Daarby het 13 700 sedans ’n lang asafstand gehad en 8 373 onderstelle as basis vir die bakwerk.

Die W123-modelreeks word lank reeds erken as ’n klassieke motor – en hy bly steeds so fassinerend soos toe hy 40 jaar gelede bekendgestel is.

Bron: quickpic.co.za